Die Kaap Is Dalk Hollands, Mosselbaai … Portugees!

Junie 1977

16h45

Sy sit verveeld vooroor gebuk met haar tone en speel. Dis nie meer lekker hier binne nie. Die plekkie raak nou te klein. Met moeite skuif sy haar een been vorentoe. Vaagweg hoor sy ‘n dowwe gedreun van stemme. Dit raak harder. Vinniger. Opgewonde weet sy … dis tyd vir haar eerste reis! Haar ontnugtering is egter groot toe sy uit haar snoesige plekkie geboeder en by ‘n tonnel afgedruk word. Om alles te kroon beland sy op ‘n yskoue staaltafel en kry sy ‘n raps op die boud!

So is daar dan nog ‘n babadogtertjie in Mosselbaai se provinsiale hospitaal gebore. Daardie babatjie, was ek!

Omdat Mosselbaai deel is van my grootwordwêreld, neem dit nogals ‘n kopskuif om toeris daar te speel. Tog het ek ‘n paar plekke (her)ontdek tydens my besoek aan Bahai Aguado de Soa Bras.

Hoe se goed!?

Baai van Mossels. Mosselbaai, soos ons dit vandag ken. Hierdie naam is egter nie deur Dias, maar deur ‘n Hollander gegee. Sommige sê dit was Cornelis de Houtman. Ander reken weer dis Paulus van Caerden. Hoe dit ook al sy, al wat die manne onderskeidelik hier kon aantref in 1595 en 1601 was mossels, van daar die naam. Die dorp is selfs vir ‘n rukkie Aliwal Suid genoem toe dit in 1849 onder Britse beheer was. maroe baaien huisies plak Die Kaap was dalk Hollands, Mosselbaai …. Portugees!

Google jy Mosselbaai se oorsprong bots bronne se feite. Dis ‘n alombekende feit dat die Portugees, Bartolomeu Dias op 3 Februarie 1488 voet aan wal gesit het in die omgewing van waar die Dias Museum Kompleks vandag is.  Ons weet ook hy’t vars fonteinwater hier gekry. Ek het egter so spesmaas dat wat ons hier sien, van die ware Jakob verskil!  dias poel 1 Mens vergeet maklik dat Dias (1488)  Jan van Riebeeck (1652)  ‘n paar jaar vooruit was deur die eerste Europeer op Suid Afrikaanse bodem te wees.   9 Jaar later (1497) het sy landsgenoot, Vasco Da Gama die eerste ruiltransaksie hier met inboorlinge beklink.

Die Portugese was ook die eerste om ‘n brief van hier te af “pos”. Dis als te danke aan Pedro d’ Ataide. Na ‘n hewige seestorm het hy ‘n brief/verslag van hul wedervaringe in ‘n skoen by ‘n melkhoutboom, naby ‘n fontein gelos.  Kort daarna is dit deur  Joao da Nova, wie onderweg na Indie toe is,  gevind.

Daar kan nie met 100 % sekerheid gesê word dat die Dias Museum Kompleks se melkhoutboom, daardie eindste boom is nie.  Ons weet wel dat dit baie oud is!  Jy kan met gemak die boom binnestap en daarin rondloop. posboom colage Die stewelposbus langs die posboom was al daar toe ek nog ‘n klein Doutrappertjie was.  Alle uitgaande briewe wat van hier af gepos word kry ‘n spesiale herdenkings stempel. posskoen Kom Ons Loop Rond

‘n Tipes besoek aan die Dias Museum Kompleks skop af met ‘n kort stappie deur die Graanskuur nadat jy jou R20 toegangsfooi betaal. Sodra mens by die Graanskuur se agterdeur kom lok die veldtuin se warm bossie reuke jou na buite.   Iets baie ouliks  van hierdie inheemse veldtuin is dat daar langs die wandelroete  inligtingsborde in Braille opgerig is.  Dis net jammer dat van die plante  dig teen mekaar groei. By sommige plekke moet jy nogals kopkrap om verskillende spesies uit te ken!  buite die graanskuur   botaniese tuin 2botaniese tuin Aan die onderkant van die Dias Museum Kompleks,  staan die Munro huisies. manroe huisie collage Twee van die drie huisies is privaat eiendom.  Die ander een is beset deur giggelende studente wat glo besig is met die wereld se grootste argeologiese projek – deur klippies in sakkies pak.   Hulle het egter geen idée wat die geskiedenis van die Munro huisies is nie.  Gelukkig help die inligtingbordtjie  so bietjie: manroe huisie bordtjie My skoene begin ‘n voetpaadtjie agter die huisies volg.  Dit kronkel deur  die lang gras verby Maleier grafte en seil dan bult-uit na ‘n gedenksteen. Plek-plekmoet mens nogals stoei met die bossies wat die paadtjie probeer toegroei.  Die uitsig  wat jou bo op die koppie begroet, maak die stappie beslis die moeite werd!

manrroe paadtjies collage

dias staproete uitsig

Sit Voet Aan Boord 

Behalwe vir die replika van Da Gama se sementkruis is daar ‘n lewensgrootte replika van Dias se karveel in die Maritime museum.   Vir R5 ekstra  kan jy aan boord klim en dit verken ook! Die karveel  wat ‘n geskenk van die Portugese Regering is, het op 8 Novemer 1987 onder leiding van kaptein Eilio da Sousa en sy 17 bemanningslede uit Portugal na Mosselbaai vertrek.  Op 3 Februarie is dit in Mosselbaai verwelkom tydens/met  die groot Dias fees.

karveel infoaan boord Behalwe vir die karveel as trekpleister bring die Maritime museum ook hulde aan die ou seevaart met prag skilderye en ander interessanthede.  Op die tweede vloer kry jy  van die ander dorpsgeskiedenis te siene met oudhede  uit Mosselbaai se eerste museum. skilderye collage kanoe maritime museum oudhede 1 brandweer ‘n Walvis(slag)stasie!  

Wie sou kon raai dat daar tussen 1911 en 1914 ‘n walvis(slag)stasie in Mosselbaai was?  Dis die laaste ding waaraan mens  dink as jy verby die walvisgebeentes op die grasperk stap. walvisbene Binne die Skulpies Museum is daar ‘n paar foto’s hieroor: walvisstasie oorblyfsels walvisslag  en direksie Sommige mense het al probeer om die fondasies van die walvisstasie op te spoor, maar sonder sukses.  Hier is waar dit moontlik kan wees:

walvis stasie vervaag

waar is die stasie collage (Net vir ingeval jy wonder,  die Skulpies Museum spog met plaaslike en internasionale skulpe en seedierties.  Onthou net dat jy nie foto’s van die waterbewondertjies mag neem nie.  Dis glo stresvol vir hulle!) skulpies museum klip skulpies museum Groet Die Grotman

In die dae nog voordat walvisse gejag is, voordat Hollanders gebrom het oor hul Mosselbaaise mossel diet, het inboorlinge reeds slim steengereedskap in hul grotkombuis gebruik.    Ons praat nou van  164 000 jaar terug!  Vandag is die St Blaze Grot van groot waarde vir die argeoloe.  Jy hoef gelukkig nie ‘n slimkop  te wees om dit te kan besoek by die Punt nie. grot 1 Toe ek nog ‘n klein Doutrappertjie was, was die dassies maerder en meer mensku.  Vandag lyk hulle kompleet na ‘n klomp vetties wat onder motors wegkruip.  Wagtend vir lekkerbek aalmoese.    (Moet asb nie die oudtjies voer nie, dis sleg vir hulle!) dassies dassie bord Hier is van die grot se inligtingsborde, zoom gerus in as jy wil lees! stone age archaeology bordtjie st blaze gesk bordtjie boesman bord

st blaze trail bordtjieDie voetpaaitjie wat verby die grot kronkel en aanhou seil Kaap se kant toe,  is die St Blaze wandelroete. Dit begin/eindig as ‘n redelike  smal paaitjie, net breed  genoeg vir een persoon.   Voordat jy padvat, onthou  net dat hierdie wandelroete 13 km lank is en in Danabaai eindig.    Jy hoef egter nie so ver te stap voordat  jy oorval word met die indrukwekkende gesig van reuse deinings wat aangerol kom kuslyn toe nie.

rots collage

wandelroete 1 a

wandelroete 2 b

nelis in grot

view vanaf grot

Mosselbaai Se Punt

Behalwe vir die St Blaze grot en wandelroete is daar nog doen-dinge by die Punt.   Wanneer laas het jy soos ‘n kind ‘n draairoomys langs jou fiets geeêet terwyl jy branderplankryers dophou?   Langbeen oor die Indiese Oseaan gesit en tuur met ‘n yskoue bier in die hand?  Of aangesit by ‘n roomyskroegie vir ‘n wafel met eg Italilaanse roomys?   10 Dan is daar ook  die Fanta Park waar kinders lekker sal baljaar. fanta park Net agter Fanta Park trek ‘n sandsteenmuur  laer om Mosselbaai se Oorlogs Monument.  Dis in  1928 op die  “Frog Rock” gebou en opgedra “for those residents who sacrificed their lives in the theatre of war”.  Onder die name word daar ook  hulde gebring aan iemand wie  ‘n paar jaar terug in Irak  gesterf het. Salig onbewus daarvan dat jy eintlik die heksleutels by die hotel oorkant die pad moet kry,  stoot ek die ongesluite hek oop.  Die gruisklippies krrrrrtts en kraak onder my rystewels en dra wat by tot die sober atmosfeer in die lug . Ek staar na die name.  Hoe voel oorlog?  Vir die wat daar was  en vir die wat agter bly?  Rus in vrede manne. memorial 150 Jaar Se Lig

Vanaf die Oorlogs Gedenksteen sien mens  ‘n vuurtoring.   Dis maklik met die  motorfiets tot daar te kom.  Van Montaque straat volg jy net die  tweespoor sement paaitjie wat teen ‘n bultjie uitseil.  Parkering op die los gruis oppervlak  kan ietwat van ‘n uitdaging wees.  Ek het dit baie versigtig en kieskeuring gedoen! bike voor vuurtoring Skaars is die valhelm van my kop af of die sekuriteitswag kom sê dag. Hy’s bloedjonk en sy oë spreek van ‘n uitgehongerde soeke na vars geselsskap.

Hy: “kom jy na die lighys toe”

Ek: “Ja.  Is dit okey as ek hier parkeer?”

Hy: “dis reg soe ja”

‘n Oomblik van stilte.

Hy: “Ek pas die plek hie op.  Ek jaa die bosslapers weg as hulle wil ko’ moeilikhyt  ma’k.

Ek kyk by die verlate sementpaadjtie af.  Dis nogals ‘n ver entjie om van Montaque straat af tot hier te stap.  Veral as Oom Tas jou metgesel is.  😉

Hy:  “hulle wou my al meti mes steek”

Oe aarde.

Hy:  “Jissie! Dis warm.  Kyk hoe’s my ore gebrand!   Ek moet jou my nek wys”

Hy vroetel aan sy hemp.  Genade … dit lyk of hy dit gaan uittrek!

Ek:  “Toe’ma! Toe’ma!  Ek sien jy’t al ‘n lekker tan weg!”

Genugtig! Ek kry koers vuurtoring toe.  Hy stap saam.

Hy:  “Ek was nog-ie da’ bo nie”

“Oooooo” Kom dit van my af.

Hy: “Ek willie gefire wortie, ek moet my werk hie onne doen”

Onseker waar ek die toegangsfooi moet betaal loer ek by die eerste oop kantoordeur in.    Daar ontmoed ek vir Eddie.  Sy liefde vir vuurtorings is ooglopend.  Tussendeur happe van sy appel haal hy ‘n boek uit en wys hy  my sy gunsteling vuurtoring foto’s.   Om met hom te praat is vervrissend.  Al het ek sy middagete ongenooid onderbreek, gesels die man lekker en gee hy my eersteklas toerleier informasie.   Gesels-gesels stap ons die vuurtoring binne terwyl hy vlugtig vir my woonkwartiere wys waar van die personeel vroer jare gewoon het.

Sedert 15 Maart 1864 hou die St Blaze vuurtoring  al vir 150 jaar ‘n wakende ligoog oor skepe.  Die heel eerste lamp was rooi en het  24 km ver geskyn.  In  1914 het die vuurtoring eers sy stem begin dikmaak met die hulp van ‘n mishoring.  Elektriese lig is vir die eerste keer op  6 April 1931  gebruik.

vuurtoring trappe

Terwyl ek al klouende (en noodsbenoud) die drie stelle trappies met my rystewes uit trapsuutjies vertel Eddie dat die vuurtoring se toring ongeveer  20.5 meter hoog en 52 meter  bo seespieel is. lighuis 1 Bangbroek kruip ek hande-viervoet oor die panele wat lei na die volgende stel trappies.  Op ‘n meer beskaafde manier van doen waag ek dit nie!  Die laaste stel trappe eindig by ‘n groen metaalblad langs ‘n reuse gloeilamp. Angstig kruip ek daaroor en kry myself weer in ‘n waardige  posisie.

Die regte woord vir hierdie indrukwekkende gloeilamp is ‘n lens vertel Eddie.  Dit weeg ongeveer ‘n ton, word LED aangedryf en is 30 kilometer sigbaar op see.  Elke 15 sekondes flits dit twee seine gelyktydig na beide kante toe.

vuurtoring bulp

Om buite te kom klim ons deur ‘n “Alice in Wonderland” deurtjie.  Van hier sien mens ver.  My hare word onder die luide toejuiging van die brekende branders deur die wind deurmekaar gekrap.  Dis lekker hier bo!

vuurtoring deurtjie

vuurtoring uitsig My foon begin raas.  Dis my pa.   “Nadoe? Moet ek jou nog wys waar die  Skrynwerkershuisie is?” Oe Jinne!  Ek staan so en droom hier bo dat ek skoon daarvan vergeet het!

So  is ek dan weer trappe  af.  Met ‘n groter gesukkel as die opkruipslag!    Met sy onopgesmukte en eerlike manier,  het Eddie my baie van die St Blaze vuurtoring geleer.  Ek het dit vreeslik geniet!  Dis net jammer dat die woord “dankie” so armsaling kan klink as mens iets regtig waardeer!

Oom Pieter  Se Kiekies

Met my pa se Vespa wat voor die skrynwerkershuisie staan, is dit maklik om voor  die regte gebou te parkeer.  Nadat Pa my aan Pieter voorgestel het, vat hy pad. (hy weet ek spandeer ure in sulke plekke!) bike en vespa  Oom Pieter is ‘n wonderlike storieverteller en hy kry dit vinnig reg om my terug te neem in tyd.  Uit die skrynwerkershuise, vertel hy, is die eerste Afrikaanse besigheid in Mosselbaai bedryf.  Loer mens by die trappe afloer af, kry jy ‘n idee waar die manne toenteryd gewerfskaf het. skrynwerkers collage Die  foto’s teen die muur  getuig van ‘n tyd voor ons sin.  Dit was in die dae toe  ossewaens nog in die hoofstraat “parkeer” het,  mans  en dames apart moes swem, en vakansiegangers se kampeerterrein uit wit laptente bestaan het.

Deur sy ronde brilletjies kyk Pieter se helderblou oë reguit in myne terwyl  hy met ‘n rietstokkie vir my sekere geboue uitwys en hul geskiedenis vertel.  Ek staar hom woordeloos aan.   Ek hoor van die sandsteenquarrie agter die vuurtoring waarmee meeste van Mosselbaai se sandsteen geboue gebou is.  Dat die vryemesselaars in 1985 die hawemuur se hoeksteen gelê het.  Van die “lighter” mandtjie wat gebruik is om passasiers van skepe af “oor te laai” na kleiner bootjies toe.  Die bootjies het dan weer op hulle beurt die passasiers wal toe geneem.

Die liefde vir ou geboue kom van Oom Pieter se jong dae af, toe hy argitektuur studeer het. Dis juis hierdie passie tesame met sy intense navorsing oor Mosselbaai se ou geboue wat die “Explore Historical Mossel Bay on Foot” kaart, die lig laat sien het.

Behalwe vir die foto afdrukke uit die 1800’s, is daar nog iets wat my gaande het.  Dol-en-klei osse!  Ek het altyd gedink dat hierdie oudtydse speelgoed  plastiekpoppies sal wees. Toe  sien ek dis beenwerwels, moontlik afkomstig uit ‘n afvalbrediepot!

speelgoed collage ou goed 4 ou goed 5 koppie mix vir reg mannetjie mix Hier’s ‘n foto album wat ek saamgestel het van oom Viljoen se foto ekspo. Ek hoop jy geniet dit soos ek!

https://doutrapper.wordpress.com/oom-pieter-se-foto-expo/

Teen 5 –uur se kant staan my geskiedenisles einde se kant toe. Nog nooit was ou sandsteengeboue so interresant nie!   Ek is verwonder en dankbaar dat ek hier kon kom inloer.  Oom Pieter sien my af soos die  ware heer wat hy is.  Tesame met Eddie,  is hierdie twee manne my Mosselbaai helde vir die dag.  Baie dankie oom Pieter, ek is aangenaam verras. oom pieter Die Park Storie    

Een dag,  nie so lank terug nie, was daar ‘n dorpie sonder ‘n park.  Daar was ‘n  strand waar jy kon swem en sandkastele bou,  maar van boomklim het die  kinders niks geweet nie!

En toe kry Mosselbaai die Victoria Park!  127 Jaar gelede.   Dis op 21 Junie 1887 geopen met  ‘n boomplanting.  Latere jare is die park hernoem na een van die tuiniere wat daar betrokke was, Geddey. Stap mens vanaf Marsh straat deur die groot swart ysterhekke die park binne, verandering die atmosfeer.    Jy bevind jouself skielik op ‘n wandelpaaitjie, omring deur  groot bome en welige struike. park hek 1 park 2 park 1My ma het as kind  elke dag  deur die park skool toe gestap.  Ek sou ook!  Daar was  dan wonderlikde kind-dinge soos  ‘n speelparkie, apies, skilpaaie, voels, pluimvee en khoivisse.  Gedurende Kerstyd is hier ook  groot konserte aangebied. park bankies Tydens my kinderjare was hier  egter geen  diere   en het ons dit selfde indien ooit,  besoek. Intussen het die park nuwe lewe gekry met verskeie nuwe inwoners. (Jy word egter vriendelik versoek nie on die spulletjie te voer nie!)

Kyk bietjie wie’t ons almal raakgeloop: park voels donkie park diere Het jy geweet pappagaaie eet chillies?  Ek ook nie!  Behalwe vir chillies, skenk verskeie winkels groente en vrugte aan die park om die gediertes se pensies  vol te hou.  Die munisipaliteit beskik glo ook  oor ‘n fonds wat veearts kostes dek indien dit nodig sou wees.

Die Geddey park is mooi, stil en sielsverkwikkend.  Dis ‘n  plek waar jy vir ‘n slag kaalvoet met jougedagtes kan loop.  Ek hoop regtig Mosselbaaiers besoek dit so af en toe!

Uit Marilyn Se Dae

Om Mosselbaai in een  dag te verken is byna onmootlik.   Daarom besoek ek Dejavu /  Monroe Theatre  eers die volgende dag. Die gesellige soet reuk van pasgebakte muffins lok mens sonder moeite van die sypaadtjie af by die winkel in.   Skaars is ek oor die drumpel  of  Joan kom stel haarself voor.   Dis nie ‘n tipiese besigheidsverwelkoming nie wat sy gee nie,  maar  ‘n opregte “wekom”.  Net ‘n troste eienaar kan so groet.

Nuuskierig begin ek rondloer.   Links van my is die Dejavu klerewinkel met nommertjies wat op ‘n tydstip hoogmode was. vintage klere Die houttrappe op regterkant lei na twee solderkamers.  Die eerste vertrek is nie net propvol boeke nie, maar verkoop ook oudhede soos hierdie noodhulpstel. noodhulp collage Dit voel kompleet asof mens in ‘n tydkapsule is.  Oralste is daar iets ouds te siene.  Daar is selfs langspeelplaathouers teen die dak geplak. bo 3 bo 1 In die vertrek langsaan is van toeka se onderklere, breekgoed en tierlantyntjies te koop.   Daar’s sowaar tot ‘n regte polkadot swembroek!

 

trourok teekopppies swembroeke collage onderklere trappe Die aanpaskamertjie verskil verseker van dit waaraan ons gewoond is.  Dis knus, vriendelik en met al die Marilyn Monroe foto’s te siene,  voel  ekstra kurwes welkom. (Die aanpaskamer is links onder op die foto)

vintage klere

Gepraat van die rolprentster;   die Monroe Teater vertoon weekliks ‘n klassieke silwerdoekfliek.    Teen  R55 kry jy die kans om ‘n intieme fliek ervaring  en  ligte aandete te geniet.  (ek twyfel of daar meer as 20 sitplekke is) (pryse mag dalk aangepas wees) vintage fliek Tydens geskiedkundige herdenkings draai gepaste flieks wat die gebeurtenis komplimenteer.   Sodra die Oscar toekennings nader kruip vier Monroe  Theatre, Hollywood se goue oues met ‘n rits Oscar wennerflieks.   Op koue wintersaande  kan jy jouself  dalk tuismaak langs die kaggel  vir ‘n lekker ou Western fliek.    Somtyds word hier ook caberet en teaterstukke op die kleine verhogie aangebied.

Voordat jy reken dat Dejavu / Monroe Theater net vir  grootmense is,  dink weer.  Bedags kan jong dametjies, uitgevat in balrokkies, verjaarsdag teepartytjies hier vier. Dan is dit tyd vir ‘n kinderteater, kolwynties eet en fotoraampies maak. Ander kuiergaste (jy kan enige tyd van die dag kom inloer)  kan gerus Joan se tuisgemaakte  “ clotted cream en scones” probeer.  Die res van die spyskaart lyk so:   (pryse mag dalk al verander het)vintage menu Joan gesels maklik met vreemdelinge.   Ek vra haar hoekom sy Mosselbaai se mense gekies het om haar “vintage-liefde” mee te deel.   In die Kaap sou sy immers  tog meer geld maak.  Haar hart lê egter by die plaaslike gemeenskap. Vir haar is opvoeding in teater en drama belangriker as wins.  Haar   liefde vir oudhede was altyd daar, nog voordat sy die winkel 6 jaar gelede gekoop het.

Waar kry sy haar voorraad ?   Somtyds is sy gelukkig genoeg  dat mense dit vir haar bring, maar sy is voordurend aan die snuffel vir nog. Sekere dinge sal Joan  nooit verkoop nie, soos haar ma se trourok wat uit Engeland kom.

My eerste ervaring in ‘n “vintage” winkel is ‘n aangename ene!  Veral na die ontmoeting met Joan.  Haar laaste woorde aan my is: “Die laaste stuk van my lewe is ek omring met mooi en kosbare dinge.”


vintage baas

Nog Stopplekkies

Hier’s nog ‘n plek wat ek en Tigger besoek het:  die hawe.

Vroer jare kon mens op die hawemuur tussen skeepstoue deurloer na die blink vislywe onder in die water.  Deesdae kondig ‘n elektroniese bord se kwaai rooi letters aan dat toegang geweier word. Daar is wel ‘n stukkie hawemuur , net voor die hawe se ingang waar toeriste (en seevoels) kan rondhang. tigger by hawe seevoels As jy ‘n gebou se dak sien blink oorkant op die Santos strand, moet jy weet dis waarskynlik  die Pavilion wat in 1916 gebou is.   Dis was glo in die 20- en- 30-ger jare ‘n lekker kuierplek. In 1925 het die Prins van Wallis het selfs daar ‘n draaitjie gaan maak! (Dis die gebou wat amper op die strand is, regs ondert van die gelaste foto) santos vanaf die hawe Die sandsteen gebou langs die Toerismesentrum  is in 1879 gebou en het op ‘n stadium as die dorp se munisipaliteit gedien.  Vandag huisves dit “The Craft Art Workshop.” Binne in die gebou ontdek ek wraggies die “lighter”mandtjie waarvan oom Pieter vertel het,  tesame  met ‘n grys wa!  (‘n Steelfoto sou ongelukkig nie deug, want foto’s neem binne die gebou word verbied)

Kyk net watter mooie graverings  is aan die buitekant van die gebou bokant die vensters.   sandsteen diere gebou sandsteen diere

Ten Slotte

Terug by my ouerhuis in Hartenbos gaan draf ek langs die strand terwyl die see   skaamteloos sy rotsriwwe oopvlek.  Daar’s dinge van Mosselbaai waarvan ek nie hou nie.  Dalk is dit omdat ek die dorp ken en dit uit ‘n meer kritisiese oogpunt ervaar.

Dan is daar die liefhebbers. Mense by wie jy aanklank vind omdat hulle ‘n  passie het vir wat hul doen.    Dis hulle wie jou sonder skroom in hulle wêreld binne nooi en jou toelaat om ryker by hul agterdeur uit te stap.

Dankie dat jy saamgelees het!

Sparkle hdr_hdr DouTrapper Nota’s.  

Die Roete:

Mosselbaai kaart 2

Mooi ry:   60 km/h.  Ek het selde vinniger as dit in die dorp gery.

Rystewels is uit!  Veral as jy die  Dias Kompleks, St Blaze Wandelroete, St BlazeVuurtoring, of Geddy Park besoek.

Glibberige rotse: Wees versigtig vir dit as jy St Blaze wandelroete aanpak.  Veral op vogtige dae

Toegang en parkering vir  motorfietse:  Maklik oralste beskikbaar.

Gruisparkering by St Blaze Vuurtoring:  Indien jy motorfiets se kantstaander (side stand) langer of korter gemaak is, maak seker dat jou fiets op ‘n soliede plekkie tussen die gruisklippies staan.  Net om te verhoed dat dit omval!

Meer as een dag:  dis wat jy nodig het as jy regtig Mosselbaai wil platloop.

Toegangsfooie:

Dias Museum Kompeks :R20

St Blaze Vuurtoring: R16

St Blaze Grote en Wandelroete: Gratis

Geddey Park: Gratis,  maar ‘n donasie sal waardeer word

Dejavu: Gratis

Manroe Teater:  R55 per fliek, ligte ete ingesluit. (let daarop dat pryse dalk al kon verander het)

69 Historiese Geboue:   Dis hoeveel plekke daar op die “historical route map” is om te besoek.

Voetslaan is die beste Mens raak redelik moeg vir stop, valhelm  afhaal, gaan kyk, valhelm opsit en ry as jy die historise stap roete wil geniet!

Uniek geverf:   Behalwe dat elke vuurtoring se ligstraalseine uniek is, is die geboue ook elk op ‘n unieke manier geverf.  So is dit maklik identifiseerbaar vir skepe bedags.

Bronne:: 

http://www.visitmosselbay.co.za/ http://en.wikipedia.org/wiki/Mossel_Bay http://www.mosselbay.net/index.html http://www.diasmuseum.co.za/ http://www.rsa-overseas.com/archaeology/bartolomeu-dias-museum-complex.htm http://southerncape.co.za/towns/mosselbaai/welcome.php

Kontak:

Mosselbaai Toerisme:

Foon: +27(0)44 691 2202

E-pos: admin@visitmosselbay.co.za

Dias Museum:

Foon:  (0)44 691 1067

E-pos:  info@diasmuseum.co.za

St Blaze Vuurtoring

Foon:  +2744 690 3015

E-posl: John.Basson@transnet.net

Dejavu / Manro Teater:

Foon: 082 415 9588

E-pos: dewaal@afrihost.co.za

 

Advertisements

6 thoughts on “Die Kaap Is Dalk Hollands, Mosselbaai … Portugees!

    • Dankie Mosselbay Tourism!

      Ek vind dat die dorp die lekkerste is om in rond te loop net nadat die Desember vakansie verby is. Daar is baie plekke wat ek nog wou sien, die tyd was net nie daar nie.

      Like

  1. Dankie Doutrapper,ek woon al donkiejare In Mosselbaai en omgewing,maar jy het my weer baie nuwe dinge gewys en geleer.En baie goeie navorsing gedoen.sterkte, vorentoe.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s