“Daar was nie winkelbrood in Klein Brakrivier nie … Ma moes bak!”

Sug.

Next page. Kliek.

Hier’s ook min,  behalwe vir vakansie akkomodasie.

Waar is  die Klein Brakrivier dan waar  Pa dan groot geword het?

Ek WhatsApp:

“Hallo Pa! Was Klein Brak ook eers ‘n plaas gewees? Dis mos waar Pa groot geraak het nê? (ek weet Aneen verjaar môre!):)

Ek wag ‘n rukkie, was skottelgoed. Die foon se rooi liggie flikker.

(meeste van my pa se antwoorde het ek net so gecut en paste)

“Helo.  Ek glo so maar dis baie ver terug. Alles begin maar mos met ‘n winkel of iets. Kerneels Munro se pa, Pieter Munro, het ‘n regte smidswinkel gehad. Daar is wawiele se veilings en perdehoewe gemaak.”

Nog ‘n boodskap volg.

“Daardie jare was baie mense arm. Klere is aangepaas van groot tot klein. Ouma het haar snuif gemaak van loggtwak, sommer ‘n stukkie gepruim ook. Ons het gebly in die groot rooidakhuis naby die rivier. Sal jou gaan wys. Die huis was 5 pond ‘n maand.”

Nog ‘n WhatsApp. Lyk my pa’s  “on the roll”!

“’n Windlaaier het die draadloos se battery gelaai vir Saterdae se rugby, boks of nuus. Omdat die opvangs swak was, is die ore feitlik tot teen die draadloos gedruk. En bewaar die een wat geraas het tydens so ‘n luistersessie! (my susters het gewoonlik skelm LM hit parade geluister)”

Beeeee-ping!
“En moenie van die hardervistrek in die winternagte vergeet nie. Dis ‘n lang storie.”

Beeeee-ping!

“Kruideniersware is by die winkel op die hoek gekoop. As dit die einde van die maand betaal was, het mens ‘n kardoesie lekkergoed bygekry. Gewoonlik toffies, nicker balls, Wilson blokkies ens. Meel en suiker is in grootmaat gekoop. Daar was nie winkelbrood nie. Ma moes bak. Vetkoek! Heerlik en gereeld. Als is met die hand gewas. Gestryk met ‘n yster wat op die houtstoof warm gemaak is. Ek vertel jou sommer die dinge vir ‘n bietjie nostalgie”.

Beeeeeee-ping!

“Waar die ou pad se nou bruggie  is was daar voor my tyd  ‘n pont. Die hele laerskool het almal saam in een vertrek geleer! Vloede het sommer deur die huise geloop. By die strandgebied en Fraaiuitsig was daar net sandkoppe. Waar die parkeerterrein vandag is het ons op karton by die sandduine afgeseil. x”

Beeeeee-ping!

“Ouma en Oupa se grafte is in Klein Brak se begrafplaas. Onthou ek moet jou die rietdak kerkie gaan wys. Alles is daar gehou. Bassaars, begrafnisse, kerk, pinkster. Al die ou Kleinbrakkers lê daar. Dis net bokant Powertown en watersuiweringswerke.”

Na nog ‘n paar oor en weer WhatsApps groet ons. So dus hoe dinge in my pa se kinderjare was! Vreemd hoe jy ingedagte deur plekkies soos hierdie kan ry, salig onbewus van die lief en leed  wat daar afgespeel het.

Daar is twee maniere om vanaf Mosselbaai se kant af  by Klein Brakrivier se “ou dorp” te kom:

*Woerts  N2 langs en volg die rigtingaanwysingsbord na links by die brug.

*Ry daarheen met die “ou pad”(die R102)  vanaf Hartenbos.  Dit loop  parallel langs die N2.

(Die R102  geniet ek baie meer op die motorfiets as die snelweg.)

Onthou dat die bruggie voor die dorp redelik nou is en dat die “eerste kom eerste gaan” reël hier geld.

bike voor brug 60

Met die motel agter ons, pur Tigger saggies die “hoofstraat” af.  Hier is niks uitspattigs nie. Netjies versorgde huise met eenvoudige boustyle staan op groot (meestal blomlose) grasperk erwe. Al teken van lewe sover is die oop slaghuis.

slaghuis bord 60

By die hoekkaffee draai ek links, rivier toe.

rivier collage 60

Ek vertoef net ‘n rukkie by die rivier.  Dalk moet ek die huis gaan opsoek waarin Ouma gewoon het. Ek ry terug straatop,  verby ‘n oom wie met moeite sy grassnyer vorentoe stoot.

Die huis  herken ek dadelik, al lyk dit bietjie anders.   Dis die plek waar al  ouma se grootmenskinders en hul orrelpypies Sondae kom koffie drink het. Ek kan nou nog die klank van die vuurhoutjie hoor wat die gasstoof aansteek  en die geffffffffuuuuuuuuuuuuuu wat die gas maak terwyl die koffiewater kook.

Die grassnyer  het intussen stil geraak. In my truspeeltjie sien ek hoe die oom, hand in die een sy, my dophou! Skaam en selfbewus druk ek die kamera terug in my sak. Dit voel net nie reg om ‘n vreemdeling se eiendom af te neem nie! (ouma is al jare oorlede)

Ek skakel  Tigger aan. Saggies en stadig ry ons weer “hoofstraat” toe. In plaas daarvan om regs te draai N2 toe, hou ek aan links ry tot waar die pad vurk.   Ek kies die grondpad.  My volgende avontuur lê voor ….

vloedskade-1-60DouTrapper Nota’s

Die Roete Vanaf Hartenbos Tot By Klein Brakrivier: hartenbos-klein-brakrivier-kaart-2

Ou vs Nuwe Dorp:

“Ou” Dorp: Die gedeelte van Klein Brakrivier wat ek besoek het, links van die N2.
“Nuwe” Dorp: Dis regs van die N2, langs die strand. Die woonareas, Fraai Uitsig, Rheebok en Tergniet lê links van dit.

Powertown.
Op die N2 George se kant toe, net voor die brug na  Klein Brakrivier,  sal jy ‘n groot gebou omring deur krothuisies opmerk.  Dis die informele nedersetting, Powertown. Volgens Peter Bendheim is hierdie afgetrede kragstasie,  ‘n reuse speelplek vir die Powertown kinders. Peter het ‘n interessante storie van ‘n foto-uitstalling wat hy daar vir die inwoners van Powertown gehou het. Gaan loer gerus na sy mooi foto’s!

http://www.peterbendheim.com/powertown/

Doen Dinge

(Jy sal jou verbeelding moet gebruik, want hier’s baie min om te doen!)

*Slaap

 *Lees Boek (totdat jy aan die slaap val)

*Lê op jou rug en kyk na wolkeprentjies  (totdat jy weggevoer word na droomland)

(okey, okey, ek sal nou ophou!) 😉

*Koop jou vleisie vir vanaand se braai by die slaghuis terwyl jy die kinders  hoekkafee toe stuur vir lekkergoed. (wanneer laas het jy ‘n slaghuis in ‘n klein dorpie besoek?)

*Hengel. Met ‘n visstok, met ‘n net, by die rivier, mond of see. Die keuse is joune.

*As jy ‘n kanoe het gaan roei op die rivier.

*Bak in die son op Klein Brakrivier se strand.

*Verwonder jou  aan die waterwêreld van seediertjies by die strand se rotspoele.  Die rotspoelstrook strek ongeveer vanaf Hartenbos tot by Tergniet, lank genoeg vir ‘n lekker strappie!

Voordat ek sê “fluit-fluit my storie is uit” moet ek van ‘n lekker grondpadroete vertel:

Botlierskop.

Dis maklik om vanaf Klein Brakrivier tot by Botlieskop se grondpadafdraai te ry:

bot 1 60

klein-brakrivier-botlierskop-kaart

‘n Bekende baken van Botlierskop is ‘n tipe vinger-van-God” rots wat bo op ‘n koppie is. Dit sien mens van vêr af.

In die laat 1700’s is Botlierskop glo gebruik as ‘n uitkykpunt om te monitor vir inkomende skepe oppad na Mosselbaai.   Die dag as daar dus ‘n rookbol bo oor die koppie hang,  het boere geweet dat dit hawe-toe-gaan tyd is.

Heelwat later, in 1996 het ‘n Dr Dirk Neetling, Botlierskop omskep in die omgewing se eerste wildsplaas. Van die olifante wat vandag hier rondloop het in flieks verskyn soos The Gods Must Be Crazy, Elephant Boy en Pride.

Sodra mens deur die koel, skaduryke boomlaning van Botlierskop ry voel dit asof jy ‘n misterieuse wêreld betree.    Soos ‘n regte bobbejaantjie sit ek agterop die motorfiets en verkyk my aan al die mooi.

bot 2 60

Met onlangse swaar reën en grondverspoelings in die omgewing, lyk dit asof ‘n prettige rit vir ons voorlê

bot 3 60

Duskant Botlierskop Game Lodge se ingang wag die eerste driffie.

bot 4 60

Ek tik aan Kêrel se skouer:  “Stop! Ek wil afklim!” (om aksiefoto’s te neem)

Dis moeilik om te bepaal hoe diep die swart water is, al sien ek van die  klippe  op die bodem.   Ek begin bo oor die klippe  stap.  Dit kantel liggies onder my skoene terwyl die water opkruip tot by my kniee.   “Shloes-shoels-shloes!” 
Agter my volg Kêrel met sy 1000 cc Honda Varadero.

bot 5 60
Ek neem weer my sitplekkie agter in voordat ons dieper die reservaat inry.  Terwyl ons ‘n klein “bergpassie” uitklim  kronkel die rivier soos ‘n bruin slang deur die ruigtes onder ons, voordat dit oor die grondpad seil.

bot 6 60 bot 6 60 2

Dis darm maar mooi hier!

bot 7 60 bot 8 60

bot 9 60

Die motorfiets volg ‘n afdraand en kom tot stilstand voor ‘n vlakkerige rivierstroom.

bot 10 60

Op die bodem lê  groot rivierklippe geduldig hul kans en afwag om ons te probeer pooitjie.

bot 11 60
Ek dink nie twee keer oor afklim nie!
Binne ‘n paar treë is ek binne in die waterstroom en stap ek in die rigting waar die pad moet wees.  Gou-gou  swem my voete in my rystewels terwyl ek flink voortbeur.

Nou is dit Kêrel se beurt:

bot 12 60
‘n Wit klipveld skei ons van ‘n tweede rivierstroom.

bot 14 60

Ek pak die tweede  rivierstroom aan.   Te minste is die pad nie vervelig nie!  😉

Kêrel kom van agter af verby my gery.

Met opgehoude asem hou ek die motorfiets dop voordat ek my oë toeknyp.  Ek wil nie ‘n val nou aanskou nie!  Gelukkig ken kêrel sy storie en stop hy  op droë grond.

bot 16 60
Met  ‘n deurnat broek en skoene klim ek weer agterop.  Hier gaan ons!

bot 17 60
Heel onverwags bereik ons die uitgang van Botlierskop Reservaat.  Van nou af sien ons  plaaswêreld.

bot 19 60
Kyk net hierdie mooi huisies wat ons pad kruis.

bot 20 60
Uit die bloute verkyn ‘n dorpie voor ons terwyl dit liggies begin  rëen. ‘n Kind hardloop uitgelate straat-af met ‘n plastieksak oor sy kop, terwyl ‘n paar duiwe vir ‘n vlugtige oomblik ons deur die dorp begelei.

bot 21 60

Met die dorpie agter ons ry ons verder deur die platteland.

bot 22 60
Die Varadero se bande begin weer teerpad proe terwyl ons begin afsak na ‘n dorpie toe.  Ma’ dis Groot Brakrivier die!  Heel verbaas om te sien dat dit is waar ons uitkom, sing die motorfiets se bande verder oor die pad.  Ompaaie is altyd lekkerder!

bot 23 60

Nou weet jy ook van ‘n lekker en mooi grondpadroete buite Klein Brakrivier wat jy met jou ysterperd kan aanpak.

Dis die roete wat ons gery het:

Botlierskop - Groot Brakrivier kaart

Dankie vir die saamry.  Volgende keer gaan ek met Tigger Groot Brakrivier toe. Ek hoop jy kom saam!

Tot dan, hou die blink kant bo!

DouTrapper

xx

vloedskade 2_hdr 1

Advertisements

15 thoughts on ““Daar was nie winkelbrood in Klein Brakrivier nie … Ma moes bak!”

  1. Ad jy nie regs gedraai het terug Groot Brak toe nie maar links gedraai het en ‘n entjie verder regs gedraai het op ‘n plaaspad kon julle per grondpad tot in Blanco gery het terwyl jy jou kon verkyk aan die mooie melkplase van die streek 🙂

    Liked by 1 person

  2. Dis jammer ek het jou nie al voor die tyd geken nie, dan sou ek darm by baie mense kon gaan inloer om te se jy stuur groete. 🙂

    Is die neutplaas dalk buite Herbetsdale? Ek moet nog soontoe gaan eendag.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s