” Iemand hou my dop!”
Die wit gordyntjie van die huisie hou op ritsel, so asof die koekeloerder my gedagtes lees. Maar dis te verstane dat ek dopgehou word. Ek’s immers die verdagte vreemdeling wie foto’s van iemand se huisie neem!
Die “Fiela Komoetie” huisie is egter nie die enigste rede waarom ek hier stop nie. Daar’s ‘n muisnes of twee wat in my kop vassit. Sien, teerpad langs, het ek baie selfvertroue op my “nuwe” motorfietsie, maar op die grondpad moet ons nog mekaar se giere leer ken.
Ek trek stadig weg op die grondpad terwyl die motorfietsbande oor die gruisklippies rol. Gelukkig voel dit nie te los nie.
Piiiirrrrr! ….30 km/h. Piiiirrrrrr! 50km/h.
Ek begin ontspan en kyk na die wêreld om my. Dis defnitief mooier as die vaal N2 wat mens ook na Groot Brakrivier kan volg.
Die plaaspad verras my met ‘n onverwagte kruising wat bo-op ‘n bultjie lê. Van daar af seil dit kop af na Groot Brakrivier se breë teerstrate.
Hierdie dorpie ken ek baie goed, want ek was ‘n klein DouTrappertjie hier! Kom ek wys jou so ‘n bietjie rond 🙂
Groot Brak Superette:
Baie Chappies en Kreols chips is Vrydag aande hier gekoop om nog ‘n MC Gayver episode te vier.
Laerskool Vorentoe Se Sportsgronde
Hier het ek my lang asem ontdek
NG Kerk:
Tydens een van Dominee se bulderende preke (hy het die gewoonte gehad om vorentoe en agtertoe te wieg tydens sulke dondersessies) het ek kliphard aan Ma gevra: “nou wanneer gaan hy van die preekstoel afval?”
Kerksaal:
Van sondagskoolklasse, kinderkrans, kerkbasaars, saalbyeenkomste en balletklasse is hier gehou.
Laerskool Vorentoe:
Hierdie trappe het ons haasbekkies elke oggend uitgeklim na ons klaskamers toe.
Die bome het ons oudtjies geplant toe ek in Standard Een was.
Searles Wat Later Spar Geraak Het:
Tot vandag toe is dit die grootste winkel in die dorp.
Pinecreek en Vlooimarkte
Op die regterkantse grasperk voor Spar is daar soms ‘n vlooimark gehou. Links van die rivier lê die karavaanpark, Pinecreek. Daar het ek leer swem in die “paddavissieklas”
Watson Shoes (Boltron)
Het jy al van Grashopper skoene gehoor? Hier is die plek van waar af dit kom!
Searle Brug
Vir my is dit hier waar Groot Brakriver se storie begin. In die 1800’s is daar ‘n brug sowel as ‘n tolhuis op die regterkantste wal gebou vir reisigers wie die rivier oorsteek.
Stasieweg
Hier moes mens dikwels stop vir die verbygaande trein
Stasieweg Se Brûe
Heel bo in foto: Baie blink vislywe is vanaf hierdie treinbrug gevang. Aan die ongesiende kant van die brug is daar ‘n loopgang met “staanhokkies” vir die manne wat wil hengel.)
Middel foto: Die ysterpale tesame met ‘n sementblad is al wat oorgebly het van ‘n ou brug.
Onderste foto: Die “ou pad” se brug op linkerkant met die N2 brug, regs. As jy kan ry liewerste met die “ou pad” George toe as die N2. Dis baie mooier en jy sien meer van die platteland.
Groot Brakrivier Stasie
Hierdie stasie het in die verlede verskeie toekennings ontvang as die stasie met die mooiste tuin. Vandag is dit net ‘n vergete boskasie. Al is alles toegegroei, weet ek waar die visdammetjies en fonteine wegkruip en waar die mooiste uitsigte is.
Die Eiland
Daar is twee maniere hoe om op Die Eiland te kom. Slaan voet van die strand se kant af deur die vlak rivierwater of gebruik Die Eiland se smal bruggie. Voordat daar enige houtbruggie was ( daar was al ‘n paar in die verlede) moes eilandbewonders per volt oor die rivier vaar. Tydens laagwater het ‘n ossewa artikels van die land af na die eiland toe geneem.
Ou foto’s van Die Eiland se houtbruggie. Heel links is ‘n ossewa besig om die vlak rivier oor te steek.
Dis hoe die strand en rivier vanaf Die Eiland lyk.
Die Eiland Se Tennisbaan
Vandat ek kan onthou is hierdie sinkplaat geboutjie en tennisbaan hier. Oujaarsaande is die tennisnet weggepak en was daar plek gemaak vir ‘n dansmakitie.
Die Eerste Keer Wat Daar Van ‘n Groot Brak Rivier Gefluister Is, was in 1730 deur pionier trekboeke. In 1745 het die manne begin praat van die area as ‘’De Verre Afgeleegene”. In daardie ongerepte jare (1782) was manne soos die Franse skrywer en natuurkenner, Francois le Vaillant, in vervoering oor die groot swerms flaminke en pelikane wat hier aangetref is.
Dit is egter nie ‘n Fransman, kranige boer of sendeling wie die “godfather” van Groot Brakrivier is nie maar ‘n tollenaar. Charles Searle.
Nadat hierdie Engelsman en sy kroos in Mosselbaai voet aan wal gesit het, is hy eers die tollenaar van George se mooie Montaque pas voordat hy ‘n tender as Groot Brakrivier se “keeper of the gate” kry. Behalwe vir die Tolhuis sluit hierdie kontrak ook ‘n klein losieshuis, (Ferreira’s) en ‘n plaashuis aan Mosselbaai se kant van die rivier in.
(foto van die tolhuis)
In sy spaartyd hou Charles sy lyf skoenmaker. Of stewels koop deel van die tolgeld pakket was weet ons nie, 😉 maar sy skoene verkoop toe so goed dat hy later ‘n voltydse skoenmaker moet aanstel. In 1864 verloor Charles sy tender as toloperateur waarop hy plan maak en ‘n stuk grond agter die tolhuis koop. Daar rig hy ‘n winkel op.
‘n Jaar later kry Charles weer die tolhuis kontrak terwyl hy terselfde tyd posmeester vanuit sy winkel speel. (Die posmeester beroep is vir 34 jaar deur die Seales gedomineer.)
Hier’s ‘n paar foto’s van Groot Brakrivier se “in die begin”
En dit …. was net die begin: Kyk net wat het die Searles nog alles gedoen:
*Charles begin ‘n losieshuis die Temperace Hotel
*1874. Chares koop ‘n plaas aan Mosselbaai se kant van die rivier op voorwaarde dat dit waterregte insluit. Dit lei dat die dorp ‘n watervoor kry, wat plekke soos die toekomstige leerlooiery van water voorsien. (die watervoor bestaan vandag nog)
*1875. ‘n Water (aangedrewe) mielie meul kom tot stand.
*1877. Groot Brakrivier kry ‘n wolwassery wat baie werk verskaf. Nadat die nuwe spoorlyn besigheid begin wegrokkel na ander dorpe wat meer ekonomieser vir boere is, word dit gesluit.
*1884. Oom Searle besluit dis aftreetyd. Hy verkoop sy besighede aan sy drie seuns.
*1886. Groot Brakrivier kry ‘n skoenfabriek. Dit betaan nog en is vandag bekend as Bolton Footware.
*1887. Groot Brakrivier kry sy eie leerlooidery.
*1889. Charles Jnr word gekies as een van die eerste 8 senators op die Kaapse parlement.
*1924. Groot Brak is die eerste dorp wat krag kry danksy ‘n hidro elektriese skema nadat die Searles hydro turbine toerusting en ‘n kragopweker invoer. ‘n 25 Kilomter waterkanaal is gebou om rivierwater na die kragstasie te lei. Die stasie word nog steeds vandag goed onderhou. (Krag kan opgewek word as daar genoeg water beskikbaar is.)
*Die Searles het as geheelonthouers verder hul merk in Groot Brak gemaak deur die verkoop van drank in die dorp te verbied. Soveel so dat dit die “prohibitation village” in die omgewing genoem is. Dis eers in 1989 wat die voggies in Groot Brakrivier begin vloei het, nadat Louis Barnard ‘n hofsaak gewen het waarin bewys is dat sy Vaaitjie Drankwinkel op grond staan wat nooit aan die Searles behoort het nie.
Behalwe vir die Searles se groot aandeel in die ontwikkeling van Groot Brakrivier, vertel die museum ook ander stories van die dorp:
Soos die dag toe die adelikes kom kuier het:
Nog dinge wat ek in die museum raakgeloer het:
(baie van die artikels is deur Searle familielede of ander Groot Brakkers geskenk)
Groot Brakrivier se museum word gehuisves in ‘n gebou wat in 1902 as die dorp se skool gedien het.
Groot Brakrivier is een van daardie dorpe waar mens redelik maklik ander historiese geboue kan opspoor, al is jy dalk so bietjie rigtingbeduiweld soos ek!
Na so bietjie op en af ry in ‘n soektog na Groot Brakrivier se oudste huis stop ek voor ‘n sinkplaat huisie waar ‘n paartjie fluks in hul voortuin werfskaf.
Dis seker nie aldag dat ‘n meisiekind op ‘n mouterbaaik voor jou veiligheidshek stop en soos ‘n agie deur die tralies na jou huis loer nie. Die oom gewaar my en kom oor die gruisklippies nader gestap. Ek voel half simpel om so inbraak te maak op hul privaatheid. “Hallo Oom,” begin ek. (teen die tyd staan en sweet ek al in my motorfietsklere) “Is oom hulle se huis een van die oudstes in die dorp?” “Ja” sê die oom. “Kom in dat jy dit van nader kan sien” Die tannie, geklee in ‘n groot sonhoed, baaipak en kortbroek staan ook beleefd nader. Hulle vertel van al die opknappingswerk wat daar gedoen is vandat hulle die nuwe eienaars geraak het. Alhoewel die huis buite oorspronk is/lyk, is dit in die binnekant verander.
‘n Paar geboue van die sinkplaathuisie af is daar nog ‘n historiese huis wat vandag as ‘n “backpackers”dien
Gepraat van huise, Langstraat se dorpshuisies is in 1900 gebou om as werkershuisies te dien.
Een gebou waar mens gerus kan vertoef is by Groot Brakrivier se “engelse” kerk. Dis op 12 Oktober 1930 geopen.
Net oorkant die pad van die kerk is die laaste rusplek van die meeste Searles langs die Riverside huis. Al moet jy jou oë op skrefies trek om van die grafsteeninskripsies te lees sal jy vir Charles, sy vrou Pamela en al die ander Searles daar vind. Familielede uit ons modere tyd is ook hier tot ruste gelê.
Dis hier waar mens uiteindelik ‘n bietjie van die Searles se geloofslewe kan leer. In plaas van die tipiese “here rest ….. faithfull wife and mother” is die inskripsies op grafstene pragtig, inspireëred en kan jy nie anders as om filosofies te raak nie. Ongelukkig het meeste van die inskripsies wat ek met die mik-en-druk geneem het, nie baie mooi uitgekom nie. Hier is wel ‘n paar:
Het jy geweet dat Suid Afrika se grootste peperboom in Groot Brakrivier is? Jy kan dit te siene kry in Mossieneslaan, langs Chris Spies se kunsgaldery. Die boom is te groot om in een foto in te pas.
Ek glip uit die warm son die kunsgallery binne. Daar is ‘n gevoel van ruimte in die langwerpige gebou met helder kunswerk bome wat mens se oog vang. Gou-gou is ek en Chris aan die gesels. Die ou Pretorianer wie nou al 20 jaar in Groot Brakrivier woon vertel dat die tamaai peperboom langs sy ateljee een van sy groot inspirasies is om skeppend te bly. “Tree of life” was op daardie stadium een van die hooftemas waaraan hy gewerk het. Alles draai tog immers om bome … van die lug wat ons inasem tot die toi-le …. Ermmm nou ja! Dis lekker om met Chris te gesels maar die son begin water trek. Dis huis-toe-gaan-tyd vir hom en ek is rasend honger! Ek word huis toe gestuur met ‘n getekende Chris Spies kaartjie, daai soort wat jy vir iemand se verjaarsdag gee. Gaan loer gerus in by sy gallery as jy in die omgewing is
Ek ry vir oulaas ‘n nostalgiese draai deur die mooie dorpie. Groot Brakrivier is vir my een van die minder kommersiële Tuinroete dorpies. Op ‘n manier wens mens dat dit so sal bly. Want hier is die “mooi” nog onaangeraak deur flikvlooi toerisme wat die ware karakter van ‘n dorp kan versmoor.
As jy ooit in die omgewing is, sit ‘n dag opsy om te DouTrap in Groot Brakrivier. Want sien, wat ek jou gewys het is maar net die oortjies van die seekoei wat onder die water uitsteek, daar’s nog baie om te sien.
Doutrappernotoa’s
Plaaspaaie is nie altyd veilig
Bly aan jou kant van die pad as jy op grondpaaie ry, mens weet nooit wanneer ‘n boer in ‘n stofwolk huis toe gaan jaag vir koeksisters en moerkoffie nie! As jy wil stop om foto’s te neem maak seker dat jy sigbaar sal wees vir enige aankomende voertuie. Maak ook ‘n knoop in jou stert om die klein bultjie op hierdie grondpad stadig uit te ry. Daar is ‘n onverwagse kruising wat vir jou wag!
Vriendelike Museumpersoneel
Groot Brakrivier is die eerste museum wat ek besoek het waar die personeel gejuk het om mens meer van die dorp se geskiedenis te vertel. Wel gedaan dames! Dit was ook vir hulle geen probleem om my valhelm en motorfietsklere te bêre terwyl ek (vir drie ure!) in die museum vertoef het nie. As jy ook wil weet wat waar geleë is, is hulle die beste mense vir wie jy kan vra.
Motorfietstoeganklikheid
Dis maklik om per motorfiets by die meeste besienswaardighede in Groot Brakriver uit te kom. Behalwe die hidroliese kragstasie, wat ‘n kilometer se voetslaan in motorfietsstewels beteken. Parkering is oorgenoeg in hierdie mooi dorpie!
Passop vir Klein Dorpies
As jy reken jy sal vinnig deur Groot Brakrivier kan drafstap het ek nuus vir jou: jy sal omtrend twee dae hier nodig he om alles in die dorp te kan geniet.
Verbrand die Ou Jaar
Ek weet nie of dit nog steeds gedoen raak nie, maar in my kinderjare het die eilandbewooners elke oujaarsaand ‘n groot brandstapel gepak wat een of ander persoon voorgestel het. Sodra dit donker was het die “oujaar” in vlamme opgegaan
Doen Dinge:
(Die Doen Dinge wat DouTrapper voorstel is ALYD bekostigbaar en sonder fieterjasies sodat dit selfs die knapste sak kan pas)
(die kaart is daar slegs om vir jou ‘n aanduiding te gee in watter rigting wat lê)
*Watersports – gaan plons in die river of see, vang vis vir aandete of gly deur die seepgladde rivier in ‘n kanoe of trapbooitjie wat jy by Pinecreek Karavaanpark kan huur.
*Gaan lê met jou tone in die sand terwyl jou kinders sandkastele bou. As jy meer avontuurlustig is kan jy in die strandgrot inkruip of ‘n lang ent langs die strand af stap.
*Braai naby die strand by die munisipale piekniekplekkies
*Voëlliefhenbbers – onthou jou verkyker. Langs die river en die Wolwedanswandelpad is daar heelwat om te sien.
*Wolwedanswandelroete – pak jou water en energiestafies in, want daar lê baie trappies vir jou voor om uit te klim voordat jy langs Wolwedansdam se wal gaan staan. Moet egter dat dit jou nie afskrik nie, hierdie pragtige 3 km wandelroete neem jou verby ‘n historiese watervoor en die hidroe kragstasietjie.
*Stap om die dorp – so kan jy lekker oefeninge inkry terwyl jy ‘n paar historiese plekkies in die dorp kan sien.
*Museum – ‘n besoek kan vir jou of 10 min of 3 ure neem, afhangende van hoeveel jy wil lees. Hierdie museum het vir my baie meer inligting as sommige, groter museums wat meer op moderne toerisme ingestel is.
*Kunswerke – gaan loer in by Chris Spies se ateljee en kyk met watter tema’s hy tans besig is
*Kyk op na Suid Afrika se grootste peperboom langs Chris Spies se ateljee in Mossieneslaan
*Besin oor die lewe in die Searle begrafplaas.
Dankie dat jy saamgery het! Tot volgende keer, geniet die mooi somersaande, al vier jy dit met’n “Jannie verjaar” koeldrank uit ‘n wynglas.
XxX
Sparkle
Bronne
http://en.wikipedia.org/wiki/Great_Brak_River_%28town%29
http://www.sahistory.org.za/places/great-brak-river
http://www.southerncape.co.za/towns/groot-brakrivier/welcome.php
http://researchspace.csir.co.za/dspace/bitstream/10204/3489/20/Groot%20Brak.pdf
Meeste inligting het ek in Groot Brakrivier se museum gekry deur baie foto’s te neem van aantekening. Daar is ook ‘n fantastiese boekie daar wat deur Watson Shoes gedruk is in die “oorlogskamer” wat ek onder oë gehad het.
Dit was nou interessant! Ek verlang sommer weer van vooraf see toe. Mens kan sien die museum word met liefde versorg. Pragtige grafskrifte…
LikeLiked by 1 person
Ek wens ek kon al die grafskrifte vir Tannie opsit. Daar was ‘n paar wat selfs ‘n titseltjie humor gehad het. Hoop Tannie kan weer binnekort met jou tone in die seesand sit. 🙂
LikeLiked by 1 person
Nou hoe weet jy dat ek mal is oor die sand onder en om my tone? Dit gaan fyn beplanning kos, maar ek hoop om weer eendag iewers by die Kaapse see uit te kom.
LikeLiked by 1 person
Ek het nou hierdie inskrywing baie geniet. 2 van my kinders hou al vir jare (eers die een, toe weer die ander) stranddienste op Groot Brakrivier. Onder andere doen hulle diens op Pine Creek, waar hulle die vakansiegangers se kinders sinvol besig hou. En Spar, die een wat jy daar wys, sorg elke jaar dat ons kinders gratis brood en melk het. Hulle bly altyd in die CSV se huis.
LikeLiked by 1 person
Dnkie Toortsie! Die Stranddiensspan se pokkekas was die beste! Ek onthou nog hoe ons kaalvoet oor die warm sand gehardloop het om betyds by die poppekas uit te kom. Die wereld is maar klein, ne? 🙂
LikeLiked by 1 person
Dankie vir die interessante visuele toer. Die fotos is puik. Baie geniet. maar was ek nie voorheen al op jou blog nie. Ek onthou van jou motorfietsreise waaroor ek laas jaar gelees het. Maar is nou bly ek het jou weer gevind …
LikeLiked by 1 person
Hallo Spokie! Ek dink jy kan reg wees ja. 🙂 Ek moet bieg, om navorsing te doen oor die plekke wat ek al besoek het neem tyd en as ek eers op die spoor van iets is dan graaf ek dieper en dieper in die geskiedenis in. Dankie dat jy kom inloer het!
LikeLiked by 1 person
Ek is ook lief om in feite en geskeidenis in te grawe. Ons is leersamige mense. Ek dink nie almal besef ook hoeveel TYD dit vat om so ‘n ordentlik stuk optestel soos hierdie van jou nie. Dankie vir jou dankies ook.
LikeLiked by 1 person
Ek sal Groot Brak moet gaan besoek as ek eendag daar naby kom. Mooi en met liefde geskryf.
LikeLiked by 1 person
Dit is nou ‘n baie goeie blog, soos wat al jou blogs is. Dankie. Ek is nuuskierig. Daar is ‘n sekere “Oester”, wat sulke goeie briewe by Litnet skryf. Wonder of daar nog ”n Searle betrokke is, klink by ‘n supermark. Sy pa is ‘n paar jaar gelede oorlede. Gedink dat jy dalk sal weet?
LikeLiked by 1 person
Baie dankie vir die mooie kompliment. Van die Searles was saam met my op Laerskool. Die outjie in my klas se naam was Sandy. ‘n Rooikop. Hulle het in die Riverside huis gewoon wat langs die Searle’s se familie begrafplaas is. Ek is ongelukkig so bietjie uit voeling met wat nou op die dorp gebeur. Tydens my besoek in Groot Brakrivier het ek ontdek dat Riverside nou die spreekkamers van dokters is. Ek het ietwat teleurgesteld gevoel!
LikeLike
Oe, ekskuus! Ek is nie “oester” van Litnet nie. 🙂
LikeLike
Lui “Mavenster” ‘n klokkie, want dit was Oester se pa se bynaam. Hy is so ‘n paar jaar gelede oorlede. Volgens sy briewe, is hulle van Skotse oorsprong. Dankie vir jou antwoord.
LikeLike
Ongelukkig is daai klokkie nou doodstil. Met my gegooglery kon ek net uitvind dat die Searles van Engeland afkomstig is. Die familie het we’ll ‘n verbintenis met George en Blanco ook. (Maar George moet ek nog gaan besoek)
Ek kan nie help om te vra hoe jy die area so goed ken nie…as ek reg onthou kom jy mos uit Vrystaat se wereld uit!
LikeLike
Nee, ek ken nie die area werklik nie. Die Knoetzes is ou vriende en al paar keer daar gekuier as ek in SA is. Die res is maar Oester se stories van daardie omgewing. Ja, kom van die Vrystaat af. Het ek genoem dat Chris en Gladys Fick, die apteker, ook vroeër in ons omgewing was.
LikeLike