Die Ruiterbos Kolletjie

Aan die voetenent van die Outeniquaberge lê  Ruiterbos Vallei se groen golwende heuwels soos die Atlantiese oseaan voor jou uitgestrek.  Hier lyk dis asof  die lug se skoon ruimtes  tot teenaan die hemel se  plafon  opstyg.  Met elke asemteug, asem mens die natuurprag  tot diep binne-in jou siel, terwyl die  teerpad jou wegvoer op ‘n kaleidoskoop van kleur. foto 1 Met Robertsonpas in my visier ry ek al soekende na waar die die padkaartkolletjie, “Ruiterbos” moet wees.   Waar die kolletjie se naambord langs die pad  staan is daar nie veel nie!

foto 2 b

‘n Entjie pad-af is daar ‘n gesellige plaaswinkeltjie wat jou nader wink.  Behalwe vir die kafeetjie is daar ook ‘n posagentskap, eetplekkie en ‘n paar kunswerke in die gebou. Oorkant die winkeltjie, anderkant die R328 pronk daar ‘n plaasskooltjie. Ek krap kop:  “Aikona, Ruiterbos moet iewers anders wees!” foto 3 winkel colage Met ‘n nuuskierige versigtigheid ry ek oor die R328 en volg die  grondpad  met die steilte af.   Tigger gedra homself mooi en seil soos ‘n wafferse rubberbootjie   oor die klippiepad se golwende bulte.  Eenvoudig en plat is die Tuinroete gelukkig nie!    Die pad vurk voor my en ek swaai terug teerpad se kant toe.   Om  in die middel van die somer te verdwaal in ‘n spinnerak van plaaspaaie sal groot konsternasie veroorsaak!

foto 6 grondpad

foto 4 grondpad en tigger

foto 5 grondpad

Terug op die R328 swiep die grys teerpadslang, verby die tagtigjare Eight Bells Country Inn se fabelagtige eikeboom wat al twee honderd jaar oud is. Volgens Eight Bells is die grond waarop die hotel staan oorspronklike deel van 2322 morg grond wat deur Goewerneur Lord Charles Somerset in 1816 aan ‘n Johannes Petrus Marx gegee is, op voorwaarde dat reisigers hier kan uitspan voordat hulle die Outeniquaberge oorsteek.

Al het reisigers somtyds by die plaashuis aangeklop vir herberg is daar eers met die koms van die omgewing se eerste skoolmeester besluit om twee kamers aan te bou. (Waar die hotel se “Bosun’s Whistel Pub” vandag is, was die kamers eers geleë.) Teen die 1930’s was die uitspanplek voor die Outeniqua berge so gewild onder besoekers dat die plaas omskep is in ‘n vakansieplaas.   Dis veral die hardebaard Royal Navy matrose wie hul seewaterskoene hier kom uitskop wanneer hul skepe in Mosselbaai se hawe vasgemeer het.  Hulle gereelde besoeke het ook bygedra tot Eight Bells se naam. Sien,  in daardie jare is die seemanne se werkskof met 8 klokslae afgetel.  Teen die tyd wat die agste klokslag lui  was dit dus tyd vir ‘n blaaskansie … ..en  waar is nou nie ‘n beter plek om te rus as hier! 😉

Die geelhoutvloere en plafon van die oorspronklike plaashuis tesame met sy 45 cm dik mure kan vandag nog gesien word in die hotel se snoekerkamer. foto 7 poolkamerAlhoewel Eight Bells Country Inn mens aan die Engelse platteland laat dink, kan  jy gelukkig sonder ‘n borsrok of kuilhoed hier  kom aansit vir  tee.   Valhelm in die hand gaan sit ek by een van die teetuin se ronde wit ystertafeltjies.  Dis net ek, ‘n ouer paartjie   en die hotel se vrypostige kat wie die koelte van die teetuin geniet.

foto 11 kat foto 8 eight bells bordjie

Na ‘n hemelse Coke float (en ‘n goed gemaseerde katjie) verken ek die res van Eight Bells. Hier’s nogals ‘n oulike paar staproetes waarvoor jy jou tekkies kan inpak, tesame met ‘n swembad, tennisbaan en kinderspeelplek.

foto 9 eight bells gronde

foto 10 eight bells gronde col

Dis egter die langbeen perde op die vallei se skuinste wat my aandag trek. Briek-briek loop ek afdraand af na waar hulle doodluiters agter die heining staan en gras vreet.  Een of twee stap nuuskierig nader. Behalwe vir die “krrrrrtttts-krrrrrrtttts” van perdetande wat gras afpluk is dit doodstil om ons.  Ek vertoef lank by hulle. Mens kry min genoeg die kans om sulke mooie skepsels te bewonder!  

foto 13 perde collage

Dis wat ek nog hier raakgesien het.

foto 13 wat nog gesien is buite

foto 13 gronde

Te siene binne die hotel

foto 15 sitkamer foto 14 gesk afskrif

Kortpad na my motorfiets deur die ontvangslokaal ontmoed ek Clive. Of liewerste,  Mr Uithaler.  ‘n Paar jaar terug het hy, met die hotel se ondersteuning  ‘n groentetuinprojek aangepak. Man alleen, het hy sakke en sakke perdemis  in 5 hektaar grond ingewerk en aartappels, kropslaai, pampoen en uie geplant. (hy het darm so bietjie gebruik gemaak van ‘n trekker en diesel wat gratis aan hom verskaf is)  Op sy eie het hy nat gemaak, geskoffel dat die stof staan en wie weet; dalk het hy selfs een of twee keer voëlverskrikker gespeel. 😉 Sy harde arbeid het 180 sakkies aartappels opgelewer. Die hotel het toe dit, asook die res van Clive se groenteoes by hom aangekoop en aan Eight Bells se gaste die lekkerste etes bedien. As jy ooit by Eight Bells inklok is die kanse goed dat jy vir Clive sal ontmoed. Hy is die Senior Besprekingsbeampte hier.

foto 16 clive

Clive sien my af onder die reuse eikeboom waarvan van die boomtakke tot 20 meter lank is.   Met ‘n sagte toetgroet ry ek onder die boomtakke uit en draai in Robertsonpas se rigting. foto 17 groot boom

Gebou deur Thomas Bain en ‘n span Krysna bandiete is hierdie pas met sy krulstert draaie en fraai uitsigte ‘n moet vir enige iemand se “doen dinge” lysie. In 1867 is daar met die pas se bou begin nadat Mosselbaai se “padowerheid” moedeloos gesukkel was om ‘n wapad te probeer bou op die ou Attakwaskloof pad. Thomas Bain het toe ‘n gedeelte van die ou Ruytersboschpad en die Attekwaskloofpad gebruik om ‘n nuwe pas oor die Outenique berge te bou. Vernoem na daardie tyd se Kaapse hoof padingeneur, Murrel Roberson wie hierdie pas moontlik gemaak het, is Robertsonpas in 1869 geopen.

robertson pas col

Sodra mens deur die pas se gevaarlike haarnaalddraai is, kan jy begin uitkyk vir ‘n bosboustasie op regterkant.  Die gemeenskap wie hier woon is grootter as wat ek gedink het.  Dalk is dit die Ruiterbos kolletjie op my kaart!

foto 18 bosdorp buite foto 20 binne bosdorp col

By die bosboudorpie se ingang is daar ‘n bostuin met rusbankies. Dit is lekker om te sien dat die  Ruiterbossers trots is op hulle omgewing.

foto 21 bostuin col

Die laaste plek wat ek besoek is by ‘n aftrekplek langs die pas waar daar twee gedenkstene staan. Een  herdenk die dood van ‘n Hollandse dame wat hier oorlede is, terwyl ‘n ander een hulde bring aan gestorwe SAP lede wie  hier in ‘n busongeluk gesterf het .

foto 22 gedenksteen

Dit is ook hier waar my ontdekkingstog vir die dag tot ‘n einde kom, want vir hoogtes en skerp draaie het ek baie respek!

Versigtig ry ek weer deur die haarnaalddraai wat soos ‘n vishoek oor die pad lê voordat ek op die reguit pad versnel.   Met tyd aan my kant het ek Brandwag, Outenique Moon, Eight Bells Country Inn, die bosboustasie, twee gedenkstene, plus ‘n plaaswinkeltjie besoek en darm so bietjie op een van die plaaspaaie ook gery. Dit was ‘n dag van nuwe belewenisse en ervarings. ‘n Dag waar ek die kans gekry het om deur ‘n klein gordynskrefie na ander se lewens te kon loer.  Ons het baie dinge wat op ons voorstoep en agterplaas wag om ontdek te word.  Kom so bietjie uit. Gaan verken jou  wêreld.

Sparkle.

DouTrapper Nota’s

Die Kolletjie Op Die Kaart:

Ruiterbos deel 2 kaart

Botsende Inligting:

Dit lyk asof daar verwarring kan wees oor wie verantwoordelik is vir Ruiterbos se uitspanplek. Eight Bells vertel die storie van Somerset wat grond aan ‘n Marx gegee het terwyl http://archiver.rootsweb.ancestry.com/th/read/SOUTH-AFRICA-EASTERN-CAPE/2004-10/1097962419 en http://www.mylandsa.co.za/ruiterbosch.html van ‘n Mr Bennet praat. Dalk het Bennet die grond van Marx gekoop.

5 Meter – die geskatte deursnee van die ou eikeboom

117 Jaar –  Die ouderdom van Laerskool Ruiterbos, die plaasskooltjie wat oorkant die plaaswinkel/ padstal  staan.

Eight Bells Is Groen Want: 

* Hulle gebruik fonteinwater.

*Riool gaan deur ‘n verwerkingsproses om plante mee te besproei.

*Indringer bome word afgekap en gedroog om donkies mee te stook vir warm water

*Perdemis raak kompos

*Oorskietkos word geskenk aan ‘n varkboer.

*Blikkies en bottles word bymekaar gemaak vir herwinning.

Robertsonpas aangepas – tussen 1958 en 1963 is die Robertsonpas herbou en geteer.

Kyk fyn – vir tekens van Bain se oorspronklike pas wat mens aan weerskante van die geteerde pas kan sien. Daar is ook ‘n monument op die kruin van die pas. Reg oorkant dit, aan die westekant sal jy nog ‘n deel van die oorspronklike pad sien.

Motorfietsvriendelik? 

 Motorfietsryers gaan verseker orals welkom voel in Ruiterbos. Die pad en pas is in ‘n goeie kondisie, parkering is nerens ‘n probleem nie en by plekke soos Eight Bells, die plaaswinkeltjie en Outenique Moon kan jy met ‘n geruste hart jou valhelm en ryklere op ‘n tafel (of langs die kasregister) los terwyl jy  rondsnuffel. Ek weet nie of pompe voor die plaaswinkeltjie werk nie, maak dus seker dat jy genoeg petrol het vir die rit. Wees op jou hoede vir die pas se haarnaalddraai.

Hiervan Het Ek Te Laat Uitgevind

Blommekloof Bozzolla Cranes Crest Skaapplaas Leeukloof bee farmer. .Leeukloof Trading

Doen Dinge:

In deel een van Ruiterbos is daar reeds ‘n paar doen dinge genoem. Hier is nog ‘n paar dinge wat jy kan oorweeg. 🙂

*Gaan sit op die plaaswinkeltjie se stoep en drink ‘n lekker sterk beker koffie.

*Vat die grondpad en gaan verken die plaaswêreld.

*Laat Eight Bells se eikeboom oor jou voertuig waghou terwyl jy in die teetuin iets yskouds geniet.

Dan kan jy die volgende by Eight Bells ook  oorweeg:

foto 23 doen dingefoto 13 a perde ritte

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

*Hou ‘n oomblik van stilte by die gedenkstene van slagoffers wie in twee busongelukke hier gesterf het

*Beleef  Robertsonpas se mooie mooie uitsigte. Ry dit!

Dankie dat ek vir jou wys hoe lyk Ruiterbos.  Die plek wat ook ‘n kolletjie op ‘n kaart is! 😉 Volgende keer gaan drink ons koffie by ‘n tolhuis terwyl ek ook ‘n nuwe motorfiets  toetsbestuur.

Tot Weersiens!

Bronne:

http://www.bonniedale.com/Oxwagon_Trail/oxwagon_trail.html

http://www.ruiterbos.com/about.php?item=2

http://www.sa-venues.com/attractionswc/robinson-pass.htm

http://af.wikipedia.org/wiki/Robinsonpas

 

 

Advertisements

14 thoughts on “Die Ruiterbos Kolletjie

  1. Ons het darem ‘n pragtige land. Ek kan nie verstaan hoe mense so baie geld mors om oorsee te gaan as hulle nog nie ons eie land verken het nie. Ons land bied alles wat oorsee bied in ons eie pragtige taal ook.

    Ruiterbos lyk betowerend en daardie boom is pragtig.

    Dankie vir die deel. Alweer het ek lekker saam gery in jou fotos en woorde.

    Liked by 2 people

  2. Dankie dat jy saamgery het Wolfie!

    Ek weet noe of ek SA sal kan platry in m leeftyd nie. Hier is net eenvoudig te veel om te sien en as mens nog in die plek se geskiedenis ook begin krap, kan jy lank stilstaan by ‘n plek.

    Ek sien julle loop ook lekker rond daar in jou wereld. Erg dat ons deesdae so moet tyd afknyp om te kan rondloop. :0

    Like

      • Ja, loer gerus. Jy sal miskien dit met minder fotos en woorde moet aanbied, maar doen jy ongelooflik goeie navorsing (die geskiedenis) van plekke. Dit maak dit besonders. (Soms benodig hul hierdie artikels vir tydskrifte. Tip: lees eers die ander ouens sin wat daagliks instuur, dit sal jou goeie idee gee) Sukkel jy, sal ek weer link vir jou gee.

        Liked by 1 person

    • Xena, as daar ‘n huisie is, is daar ‘n storie en dan krap ek tot ek iets kry! 🙂 Tog te dankbaar ek woon nie iewers in Europa nie. Ek sou baie min geslaap, en vreeslik baie rondgeloop het!

      Like

  3. Spokie, het daar gaan loer. Ek moet so 60 woorde uithaal, dan gaan ek dit instuur. 🙂 Vreeslik baie dankie vir jou vertroue. Heimlik droom ek daarvan om eendag vir Weg artikels te doen! Maar dit sal altyd die historiese agtergrond insluit. Xx

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s