Tolhuis Toe Op ‘n Splinternuwe Motorfiets!

’’Ek dink jy moet op die NC ry wanneer ek die Vara terugneem Ceres toe.”

My nekkie raak styf. ‘n Kriewelrige nuk kom sit op my skouers terwyl ek my kop na Nismark draai.
“Nee. Dis te groot. Te fancy. En jy weet hoe ek sukkel deur draaie!” Tog, ‘n week of twee later, trek ons weg uit Bellville om te sien of ek met die nuweling oor die weg sal kan kom.

By ‘n nuwe redensiële ontwikkeling stop ons en ruil motorfietse. My gesonde verstand sê ek kan nie  die fiets ry nie. Dis te nuut, te spoggerig! Ek klim op. (Oeeee! Die saal voel luuks!) Sit my hande op die handvatsels.   Dis baie verder van mekaar af as waaraan ek gewoond is.

“Kry die DR voor my uit die pad!” piep ek benoud onder die valhelm.

Reg. Stappie nommer een. Haal asem.
Stappie nommer twee, skakel die motorfiets aan. “Kliek! Zzzzzzzzzzzttttttt! Brrrrrrrr!”-
Skop die kantstaander in. “Klieng!”.
Sit die motor fiets in in eerste. “Kliek!”.
Gee petrol.
Halloooo! Gee petrol!
Die fiets staan doodstil. Nismark stop langs my. ”Gee petrol!”
My regterhand weier om te draai. Ek probeer weer. Geen reaksie. Nog ‘n probeerslag. Daar gebeur nou iets! Die fiets rol vorentoe!

“Tel jou voete op!” hoor ek langs my.

Ek soek-soek na die ysterperd se stiebeuls. Dis hoër op as waaraan ek gewoond is. Die sitposie van die fiets is ook ‘n titseltjie meer vorentoe. 20 km/h ….. 30km/h ….. spoedhobbel (whee!) 40 km/h…. Iets kielie in my binneste, bruis boontoe en borrel uit as ‘n lag. Ek het die wegtrek oorleef! Ek tel spoed op terwyl die motorfiets onder my purrrr van lekkerte. “Ha-haaaa- ha-haaa!”, weergalm my lag straat af.

Met ‘n skuins kopknik beduie Nismark dat ons die Botlary pad kan aandruf. Eers volg ek hom gedwee, voordat ek uitgelate tot langs hom ry. Die motorfiets se syfertjies klim na 114 km/h op die spoedmeter.  “Ka-kaaa-kaaaa-kaaa!” kraai ek weer, dit voel dan asof ons nog  80 ry!  Nismark, wie kompleet soos ‘n trotse pa lyk wie sy kind leer fietsry het, trek af langs die pad en stop. Ek volg. Eers probeer ek met my hande verduidelik, want ek vind geen woorde nie. Dan babbel daar ‘n string jubelwoorde uit voordat ek asem skep en vra hoe die revolusiemeter werk.   (dis die eerste keer dat ek ‘n motorfiets ry wat so iets het.)

Ons vat weer pad, Klipheuwel langs. Eers steek die wind net saggies op, voordat dit met bolwange teen ons oorlog verklaar.   Al word die motorfiets plek-plek rondgestamp deur die wind, bly die NC mooi in beheer van die situasie. Wat wel buite beheer voel is my valhelm. Die wind probeer dit van my kop afwaai!  Beurend en steunend ry ons Bellville binne, min wetende wat die volgende dag op ons wag …

na toetsrit 1

Hoe later, hoe kwater.  Dis nou maar een ding van die Kaapse wind.  Wat vroegoggend nog ‘n douvars briesie is, kan in ‘n  vermakerige wind deur die dag verander.  En dit, maak enige motorfietsrit onplesierig.

Met tannie Elsa se geskenkie in die motorfiets se kattebak, moet daar net gou ‘n brandstofaanvulling gedoen word  voordat ons kan vertrek.  Waar meeste motorfietse se petroltenke voor op die fiets is, is die NC sin agter, onder die saal.  Die fiets is baie oulik ontwerp!

petrol 1b blomme 1c

Ons trek weg. Ry deur Bellville en Durbanville voordat die stiller  R312 ons tussen deur die plase begelei.   Vandag word daar niks gegiggel op ‘n motorfiets nie.  Ek is in ‘n ernstige en gefokuste bui.  Ook maar goed so, want intussen het die wind issegrimmig ontwaak.   Wonder bo wonder gly die NC dapper deur die wind terwyl ek die lugstroom se dwarsklappe teen my valhelm trotseer.    Met Wellington nou agter ons dreun die motorfietse voort op die R46 al wiegende die wind in oppad Ceres toe.

ry 1 a

By Voëlvleidam kruis ons pad met ‘n genadelose wind wat mens moedbegewe wil laat.   Of jy nou meer of minder petrol gee, skuinslê, jouself so klein as moontlik probeer maak;  niks help vir hierdie wind nie!  Een of twee keer vee die wind my soos ‘n vies huisvrou na die pad se grondpadskouer.    Al gillende en klouende versnel ek middellyn toe.  Sjoe, dit is amper!

ry mix 1 a

Ag liewe Vader dit ook nog!

Trokke.  Grotes.  Vir ‘n oomblik raak my lyf slap terwyl ek my oë rol.  Tyd vir ‘n kopskuif.  Met ‘n platgemaakte lyf versnel ek vir al wat ek werd is.  Ons ry verby mekaar. Dis motorfiets teen wind en trok turbilance.  Die NC  begin onder my wikkel soos iets wat  rooimiere het.  “Gee petrol! Gee petrol! Ry-ry-ry!”  moedig ek myself kliphard aan. “Vrrrrrrroemmmm”!

Jeeeez Whizz.  Dit was erg!

Ek kan egter nie vir lank ontspan nie, voor my is daar nog twee busse oppad!

Met die ergste agter die rug dreun die motorfietse Nuwekloofpas binne.  Voor ons in die pad sit ‘n trop bobbejane heel rustig in die oggendsonnetjie en bak.  Die kleintjies is oulik, maar ek’s bang vir die grotes.   Nismark, wie heeltyd agter my is, kom verby en ry voor terwyl ek al toetende hom verby die trop volg.  Vir ‘n kleine rukkie ry ons in windstilte voordat die pas ons soos ‘n waterwurm uitspoeg,  reg in die wind in!   Gelukkig is dit net ‘n paar kilometer se ry tot by die beskutte Michellspas.   

Vroer jare, toe hierdie pas nog langs die Dwarsrivier gekronkel het, is dit eers die Mostertshoekpas genoem.  Die bou hiervan is te danke aan die Wolvenkloof boer, Jan Mosterd wie reeds in 1765  ‘n 13 km pad deur die berge na Ceres gebou het.  Die pad het heen en weer oor die rivier gewoerts en by ‘n sekere waterval was dit glo so steil dat die manne hul waens uitmekaar moes haal om daar te kon oor!   Al het die pas uitdagings gebied het reisigers vir 83 jaar verkies om eerder hierdie pad, as die 150 kilometer ompad Hex Rivierpas te gebruik.

In die 1830’s is daar aan die deur van die Kaap Kolonie se Siviele Generaal, Charles Michell geklop, om te help met die ontwerp van ‘n nuwe pas.  Binne drie jaar het  Andrew Bain,   sy seun Thomas tesame met 240 bandiete die pas teen ‘n koste van  21 000 Pond voltooi.

Kort voor die Tweede Wereld Oorlog het die grondpadpas glo ‘n sementblad gekry omdat daar ‘n tekort aan asphalt was.  In Aug 1988 is Michellspas finaal herbou nadat 83 000 kilogram se plofstof  gebruik is om 250 000 kubieke meter rots weg te blaas.  Dit het 400 000 kubieke meter se uitgrawings gelos waarvan meeste hiervan gebruik is om die pad te bou.  Die totale koste?  R42 miljoen!

In Michellspas is ‘n paar uitkykpunte waar jy kan aftrek om die natuurreservaat se skoonheid te bewonder.  As jy langer wil vertoef, wat van ‘n lekker koppie koffie langs ‘n nasionale gedenkwaardigheid? 🙂

tolhuis kant 3a

Dankbaar om na die uitdagende rit te kan stop vir ‘n ruskans draai ons by die Tolhuis in.

Met skoensole wat knars op die klippaadtjie, stap ons agter om die historiese gebou  die sementtrappies op wat na die  restaurantjie  lei. Met al die vrolike tafeltjies wat binne en buite die Bisto staan voel mens sommer dadelik  tuis. Dis net moeilik om te kies waar mens wil sit!  Met die oog op die ou Tolhuisie kies ons ‘n tafel net buite die Bistro en bestel twee blikbekers koffie.

sitplek mix

Wat ek van die Tolhuis kon navors is dat hierdie fraaie huisie ongeveer 130 jaar oud is.

Tolgelde was daardie dae soos volg:

Waens met vier wiele sonder remskoene:    3d per wiel

Ander voertuie:  2d per wiel.

Pakdiere:   1d per dier

Skape, varke, bokke  ‘n halwe d per dier

Alle ander diere:  2 d  per dier

ou foto a

Op 29 September 1972 is Michellspas se Tolhuis tot ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Tans word dit op ‘n tenderbasis  verhuur.

nas mon mix

Terwyl ons wag op ons koffie maak die Bistro se fyn wit katjie sy verskyning en kom staan hy skaam-skaam kromruggie by ons.  Eers is hy sku vir aanraking, maar toe ek opstaan vir ‘n vinnige rondkyk is hy meer te vinde vir ‘n vryfie.

kat

rondloerplekkies

Hier is geen elektrisiteit by die Tolhuis nie, en bykans alles word op die kole gaargemaak.  Lekker oudtyds en gepas by ‘n Nasionale monument!

kos

Met ‘n laaste beenswaai oor die NC ry ons die oorblywende stukkie van Michellspas af Ceres toe.  Tot dusver is die Honda NC 750 die grootste fiets wat ek al gery het.  Dit is toe darm nie so vreesaanjaend soos wat ek gedink het dit sou wees nie. Intendeel, as ek op een van my motorfietse was het ek seker nou nog by Voelvleidam teen die wind gesukkel. 😉  Al was ek so bang om die fiets te ry dat my hand selfs geweier het om die petrol versneller te draai, het Nismark gedink ek kan.  Toe dink ek ek kan.  En voordat ek myself kon kry lag ek uit pure verligting luidkeels pad af.  Pak jou bul by die horing, en ry hom.  Toe! Toe! Toe!  Jou geleenthede wag.

Dankie dat jy saamgery het! Baie dankie ook aan Nismark wat my genoeg vertrou het om  sy mooie fiets te ry!

nelis

Groete

Sparkle

DouTrapper Nota’s

Daar is gerugte dat Siviele Generaal, Charles Michell uit die Kaap verplaas is omdat hy met ‘n Franse kolonel se 15 jarige dogter weggeloop het.

Die oorspronklike dele wat van Bain se pas oorgebly het is in 1998 tot nasionale monument verklaar.

Die afstand van Michells pas is 7,93 km.

Michellspas word meeste van die tyd as Mitchellspas uitgespreek, wat per ongeluk die verkeerde uitspraak van die pas is!

Roetekaart 

roete

 

 

 

 

Advertisements

23 thoughts on “Tolhuis Toe Op ‘n Splinternuwe Motorfiets!

  1. Air, dit klink opwindend! Spannend geskryf ook. Like die kat wat so in die fotos voorkom, en die ou koolstoof maak my nostalgies.

    Geniet jou ysterperd! (Sjoe – ek het nie die moed om op een te klim nie. )

    Liked by 1 person

    • Ai! Ai! Ai! Xena? Dis nou ‘n jamerte dat jy so ekstra groot geskrik het. Om die eerste keer op ‘n tweewiel te klim is senutergend ne? :). Ek onthou ek het geleer ry deur op ‘n Vespa voor op die sitplek met iemand agter op te ry. Die leermeester het toe sy hande bo op myne gesit, sodat ek presies kon sien en voel hoe dinge werk. Maar toe hy afklim het ek ook maar om my eerste draai so bietjie aarde gekoop. Gelukkig teen ‘n slakkepas spoed.

      Jy moet eendag as jy tyd het, vir ons van jou storie vertel, ek sal dit graag wil lees.

      Dankie vir die inloer!

      Like

      • Daar is nie regtig veel om te vertel nie. Dit was sommer in die tuin gewees en ek wou nie die motorfiets neergooi nie. Ek het nie eers geweet mens kry voetremme vir ‘n damn motorfiets nie.

        Ek het wel scooters gery. Hulle remme sit waar ek dink dit moet wees en dit help ook dat die een wat ek gery het outomaties is. 😉

        Liked by 1 person

    • Goeie More Tannie Frannie!

      Ek was ook maar lekker bangbroek gewees voordat ek om daai mooie fiets geklim het. Die 750 cc is baie slim ontwerp en die hantering van die fiets is goed, so dit het BAIE gehelp. Dalk moet ek eendag vir julle aan die groter motorfietse voor stel. Die fiets waarop Nismark byvoorbeeld daardie dag gery het is te groot vir my arms om die stuurstang reg vas te hou.

      Hoop om gou weer iets van Tannie te lees! Xx

      Liked by 1 person

  2. Lekker saam met jou motorfiets gery!! Hopenlik kom ons eendag weer in die Kaap en kan ek die tolhuis met my eie oe gaan bekyk. Word jou boude nie lam nie….. vra maar net want wanneer my dogter en haar aanstaande hier aankom na ‘n dag se uitgaan op die motorfiets loop altwee maar stywerig, en se hulle is seer.

    Like

    • Op meeste motorfietse raak mens se stere maar seer. Seer is eintlik die verkeerde woord, al die lewe vloei uit dit uit! Ek het al gevind dat op sommige motorfietse, as ek agterop ry, my knie ook seer raak. Dit hang ook af van die saal Kameel, sommige sale is 1 stuk terwyl ander verdeel is in 2. Die agterste gedeelte waarop die”pillion” sit is gewoonlik ook ‘n biejtie hoer op. Die fietse wat ons ry is “duel sport” fietse en ons verkies om grondpaaie te ry. ‘N Tegniek is om te staan en ry. Dit spaar die boude baie!

      Like

  3. Wat ‘n lekker, interessante storie. Ek het nie die nerwe vir ‘n motorfiets nie, maar so iets maak my tog effens lus. Miskien eendag …

    Like

    • Dankie vir die inloer Karen! Wat ry die ouens daar by julle? Ek weet in Italie wemel dit mos van die Vespatjies? Ek sien uit daarna om meer van jou swartbeld vir diere te lees!

      Like

      • Mm, met die dat ek net openbare vervoer gebruik, is ek seker nie die beste mens om te vra nie 😉 Maar dis definitief nie soos in Italië met al die Vespas nie. Motorfiets ry is egter ‘n relatief gewilde tydverdryf in die somer oor al die lekker bergpasse wat mens kan ry. Dit lyk altyd so bevrydend. En die voordeel is natuurlik dat jy kan stop waar jy wil (en nie met jou neus teen die trein se venster gedruk sit nie. Ons kry hulle natuurlik terug deur te gaan stap waar die motorfietse nie kan ry nie 😉 ).

        Liked by 1 person

  4. Karin as jy die geleentheid kry, go for it! Dit klink nou na ‘n cliche maar mens se lewe verander regtig sodra jy die “magic” van motorfietsry ontdek.

    Vertel jy jou hele “storie” van Switzerland in jou blog? Ek het nog nie tyd gehad om op my tyd deur jou blog te blaai nie, maar ek is baie nuuskierig daaroor.
    Kaapse Groete 🙂

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s