Le Fortune Se Misfortune By Fransmanshoek

“Sauvez-nous!  Aidez-moi!” gil Jacques terwyl hy soos ‘n rot oor die skip se dek skarrel voordat hy  met swaaiende, waaiende arms oorboord tuimel.  Kook en kosmaak, dit doen hy goed. Maar swem!?  Sy potjierol lyf tref die harde seewater met ‘n groot plons.  Vir ‘n oomblik verswelg die soutwater hom voordat hy soos ‘n kurkprop na bo skiet en snakkend begin water trap.

“Nager comme un chien!” bulder kaptein De Surville van bo af. “Swem soos ‘n hond!” Jacques voel  sy arms begin beweeg. Dis ‘n entjie kus toe, maar dalk kan hy dit maak.  Uit die hoek van sy oog sien hy hoe die stormwind Le Fortune na die rotse toe dryf. Daar is al Reunion se eksotiese vrugte nou in hulle maai!  Kaptein De Surville swem met sterk hale tot by hom.   “Ons is die laaste twee oorboord.  Dè! Bind die tou om jou. En …… errrrmmmm … geluk met jou verjaarsdag!”

Dit,  het sowat 252 jaar terug op 11 September 1763 gebeur, nadat die Franse oorlogskip, Le Fortune se geluk duskant Vleesbaai gedraai het. Met meer as 400 bemanningslede aan boord het sy onderweg vanaf Reunion na Frankryk , anker laat sak naby vandag se Fransmanshoek natuurreservaat om vars fonteinwater aan boord te neem. Ongelukkig vir die Franse het ‘n stormsterk oostewind Le Fortune van agter af bekruip en haar met mening kus toe gedryf waar sy waarskynlik langs die rotse verpletter is. Onder kaptein De Surville se leiding het almal die skipbreuk oorleef en het hulle selfs later die Kaap (moontlik te voet moontlik) bereik!

As jy vandag Fransmanshoek  besoek, is die skeepsdrama van meer as twee eeue terug  dalk die laaste ding waaraan mens dink as jy jou verwonder aan die pragtige see-uitsigte.   Tog is daar historiese bewyse van hierdie gebeurtenis, want deur die jare het die Indiese Oseaan al 4 van Le Fortune se kanonne aan die mensdom terugbesorg.  Drie van hierdie kanonne is alreeds vir ‘n geruime tyd op die privaatoord Kanon. Die jongste hiervan is in 1960 langs die strand “ontdek” en daarheen geneem. Die vierde Le Fortune kanon is op 18 Augustus 2011 onder die leiding van Riekie van Rensburg uit sy sandgraf gehaal nadat dit tydens ‘n laagwater springgety in April 2011 deur twee stappers opgemerk is. Die hele aritkel daaroor kan  hier gelees word

Alhoewel ek en Nismark net ‘n vinnige draaitjie op sy motorfiets deur Fransmanshoek gery het onderweg na Stilbaai is dit ‘n plek wat ek vreeslik graag weer sal wil besoek. Die keer met stapskoene aan my voete en ‘n lekker stukkie wors in ‘n koelsak om langs die see vir middagete te braai.  Want hier waar die branders in mens se ore ruis en waar mens die vars seebriese se sout kan proe,  voel jy vinnig tuis!fransmanshoek vir blog 3 fransmanshoek vir blog 2 fransmanshoek vir blogHierdie is ongelukkig al foto’s wat ek van Fransmanshoek geneem het.  Ek was salig onbewus van die stukkie geskiedenis wat hier op die seebodem skuil )

DouTrapper Nota’s

*Die inleidingsparagraaf is slegs fiksie wat ek vir die lekkerte geskryf het. Of daar nou regtig ‘n skeepskok genaamd Jacques op die Le Foturne was, weet ek  nie! 😉

*Fransmanshoek Natuurreservaat is vanjaar 21 jaar oud. Bewaarders  speel hier  ‘n belangrike rol  om toe te sien dat visvang regulasies toegepas en  natuurlike hulpbronne bewaar word.

*Die naam Fransmanshoek, is aan hierdie area gegee na aanleiding van die Le Fotune skipbreuk.

*‘n Franse ambassadeur het ‘n plaat in die reservaat laat oprig ter nagedagtenis van die    skipbreuk.

*Reunion is ‘n Franse eiland ongeveer 200 km vanaf Mauritius

Motorfietsvriendelik

Motorfietsryers is welkom om die natuurreservaat op hul ysterpede te besoek. Jy word egter vriendelik versoek om nie in die bosse met jou motorfiets te gaan spoorsny nie maar om op die hoofgrondpad te bly.

Toegang:                                                                                                                                            Gratis

Doen Dinge:

*Kies koers met ‘n wandelpaadtjie en geniet die vars seelug

* Braai langs die see se braaigeriewe vir jou ‘n lekker worsrolletjie vir middagete

*Stel jou fotografiese vaardighede op die proef – hier is baie om af te neem!

*Bring jou visstok en kyk of jy iets  vir die pan gevang  kry

*Voëlliefhebbers sal hier ook heelwat te siene kry

Hoe Kom Ek Tot Daar

GPS Aanwysing: 34°18’4″S 21°56’40″E

Vanaf Mosselbaai: Ry op die N2 Kaap se kant toe en draai links by die Vleesbaai/ Boggomsbaai afrit voor Mossgas. Volg eenvoudig die teerpad totdat jy die Fransmanshoek bordjies begin merk. Waar die pad doodloop by Vleesbaai se omheinde woonhuiskompleks, draai regs by die T-aansluiting en volg die grondpad wat met ‘n afdraand na die reservaat toe loop.

Bronne:

http://www.sahistory.org.za/list-south-african-shipwrecks http://www.timeslive.co.za/local/2011/08/21/blast-from-the-past-emerges-from-ocean http://wikimapia.org/2805801/Fransmanshoek http://za.geoview.info/fransmanshoek,1003715     http://www.conservationatwork.co.za/news/2013/08/fransmanshoek-conservancy

18 thoughts on “Le Fortune Se Misfortune By Fransmanshoek

    • Spokie, as jy na die middelste foto kyk sal jy sien daar is ‘n seemeeu. Ek het so vermoede daai oudtjie se nes is daar! Ek dink jy sou hom nogals geniet het. Hy het nie ‘n saak met die woeste wind en die onstuimige see gehad nie.

      Tot my skande kom ek maar eintlik min by die see gedurende die jaar. As ek gedurende vakansies by my ouers in Hartenbos gaan kuier word daar egter ordentlik rondgeloop!

      Like

  1. Ons het paarkeer op Stilbaai vakansie gaan hou, en nooit eers die plek besoek nie 😦
    Ek is baie life vir geskiedenis…. dus was hierdie interessante inligting vir my. Ek het veral geniet dat jy met so ‘n bietjie fiksie begin het 🙂 Dit is die boeke wat ek die graagste lees; geskiedkundige boeke binne in ‘n storie.

    Liked by 1 person

    • Gaan google jy ook oor ‘n gebeurtes nadat jy ‘n fliek gekyk het wat daarop gebaseer is? :). Ek dink sommer nou aan Verraaiers en Roepman. Ek wens ons het die tyd gehad om alles te lees wat ons harte begeer, maar dit sal verseker meer as net een leeftyd in beslag neem

      Like

  2. En wat gaan Getruida en Vetfaan se as hulle moet uitvind dat jy naby die groot waters bly? 🙂 Jy is gelukkig, elke aand kan jy aan die slaap raak met die see wat jou aan die slaap sus. Soos wat ek nagevors het was daar iets soos 58 (ek mag nou verkeerd dink) kanonne aan boord van die Le Fortune. Daar is dus nog heelwat wat die see vir ons kan uitspoeg.

    Like

Lewer kommentaar