“Nog! Nog! Nog!” Sò Het Dit Begin

Hier is die storie van hoe die reisgogga sy skerp tandtjies in mens kan ingeslaan.   Kry gou vir jou ‘n koppie koffie voordat ons padvat na die Noord Noord.  Lekker lees!  

Dag 1

Vrydag 14 Junie

Bellville – Sutherland

In Die Middel Van ‘n Storm

04:45 VM

“toe-roe-toe-tooeeeeeeh!” Raas die selfoon langs my. “Bleeeeeh!” Deur skrefies soek ek na die snooze knoppie voordat ek dieper onder die beddegoed inwurm.

6:30 VM

“toe-roe-toe-tooeeeeeee!” Hu?  No way’s!  Is dit die wind wat so raas? Ek strompel voordeur toe, sluit oop.  “Oe vrek!” Dit sous dan buite!

08:30 VM

Dit reën. Nog steeds.  Sug.  Dis asof die wolke aan die huis se dak vasgeanker is!

09:10 VM

In afwagting staar ons deur die oop voordeur na die sagte motreën. Bogger dit.  Kom ons ry! Met spitsverkeer al verby ry ons deur Durbanville in Wellington se rigting. Verdwaalde reendruppels spat oor die pad, kompleet asof daar ‘n reuse wolkehond in die lug is wat homself afskud.  Dit begin skielik sous.  Emmers en emmers vol!    Ai, as my goggles tog net klein ruitveërs kon he!

By Wellington draai ons in die vlae reën regs in Ceres se rigting.  En ons dog die reën tot dusver is erg? Ha! Nou is ons in ‘n watermaalkolk met zero sigbaarheid.  Deur skrefies oë volg ek vir Nismark tot onder ‘n treinbrug waar ons skuilte soek.

Dis lekker om vir die reën te kan wegkruip.  Waterstroompies kibbel die modderpad af terwyl paddatjies jubelend daaroor bek-rek.  Nat en snuifend staan ons vol bravade onder die bruk, reg om pad te vat sodra dit ligter reën.

reen wegkuip mix

Terug op die nat pad karnuffel die wind ons.  Soveel so dat ek begin wonder wat is fout met my bande!   Ons ry Ceres in ‘n motreën binne. Papnat stop ons by Nismark se ouerhuis waar hy sy deurdrenkte klere uittrek terwyl sy pa  koffiebekers regskuif. Die moontlikheid van gladde modderpaaie en driffies in vloed word bespreek.  Ons besluit om eerder teerpad langs Sutherland toe te ry. Vir omdraai op ‘n onbegaanbare Karoo modderpad sien ons nie kans voor!

Die pad Touwsrivier toe is reënloos maar winderig. Na ‘n brandstof aanvulling buite die dorp kry ons koers op ‘n nat N2 met die wind van agter.  Voor Mandtjiesfontein draai ons links op die pad na Sutherland.  Ons is skaars ‘n kilometer pad af of ‘n verdwaalde Swart Suidooster kruis ons pad. Die wind waarteen ons heeldag gebeur het is ‘n briesie in vergelyking met die volgende 60 kilometer wat  voorlê.   Hoe om hierdie arrogante, boosaardige dwarswind te hanteer, weet ek nie. As ek sien word ek aankomende baan geboelie, al draad se kant toe.  In 3de rat brul Gizmo (dis die fiets se naam) soos ‘n sirkusleeu, in 4de het hy net-net te min krag. Al wat mens kan doen is om met mening ‘n teen-stuur te loods.   Na 10 of 15 kilometer se baklei stop ek met ‘n seer lyf en lam syspiere.  Dalk sal dit makliker wees om Gizmo tot in Sutherland te stoot. Na ‘n paar minute van moed bymekaar skraap is ek weer op die fiets, steunend en klouend. 7 moedskraap

Die volgende 10 kilometer voel soos ‘n ewigheid.  Die verdomde wind is net te erg! Nog ‘n ongenaakbare “Rageltjie de Beer” reënbui sak uit.  Dis koud. Baie koud.  Dalk is dit ysreën waarin ons ry.   Ons stop vir ‘n ruskansie.  Nog ‘n mede reisiger, wie oppad is na Angola stop by ons.  Natuurlik praat ons oor die weer! 8 Ribbet collage skywalker Saam vertrek ons drie in Sutherland se rigting.  In Verlatekloofpas gee Skywalker vet en verdwyn spoedig buite ons sig.  Na die pas kry ons hom langs die pad, besig om brandstof in sy motorfiets te gooi. Sy BMW se termostaat wys dis 4.5 grade. Gin wonder nie, want om ons lê blertse sneeu!   Hier skei ons en Skywalker se paaie dan ook. Dis skerp skemer toe ons Sutherland se breë hoofstraat binnery.  Die dorp is baie kleiner as wat ek dit voorgestel het.  Op een van die huise se voorerwe pronk ‘n reuse teleskoop.  Hopenlik kan ons dit more van nader bekyk!

voor sutherland mix

Ons slaapplek vir die nag by “Die Withuis”, lyk bietjie anderste as op internet.  Meer … so gemaak en so gelat’ staan.  Nadat ons afgepak en ons warmste klere aangetrek het, gaan soek ons hitte in die kroeg.   Die kominasie van koue plus die afwesigheid van lewe op straat, laat Sutherland soos ‘n spookdorp voel.   Stel jou dus voor hoe dit lyk as mens  Die Withuis se hout-en-glas voordeur oopstoot  en in ‘n groot donker “saal” drie figure  sien sit!

Heel onder in die saal, links van ons, staan onpaar tafels en stoele naby  ‘n kaggel / binne braai.    Regs van ons is die “Mars Bar.” Ek maak die silhoeët van ‘n groot lang man uit, besig om iets te skryf.  Langs hom sit ‘n man en vrou op hoë kroegstoele besig om Afrikaanse musiekvideo’s te kyk.  Bewapen met ‘n glas rooiwyn, hoor ons kort voor lank vna Sutherland en sy mense.

 13 Ribbet collage withuis aand

Ons gesels oor haasvleis, mense wat op ysige wintersaande in swembaddens beland, die hartseer van troeteldiere wat geskiet moet word (Sutherland het nie ‘n veearts nie) en die knaende jakkalsprobleem.

Op ‘n stadium is  daar ‘n vergadering byeen geroep tussen die boere en “groenes” om die probleem te bespreek.  Hiermee dan ‘n uittreksel:

Groen Juffie: “ons kan die jakkals probleem oplos deur hulle te kastreer”Boere oomie:  “Maar my!  Dametjie!  Die jakkalse dek nie die ooie nie, hulle vreet die lammertjies op!”

Na nagsê, lê ek kop onder die doewei die dag se nota’s op my foon en intik.  Die opwinding, storm en vreemde kuier maal deur my kop en oorrompel my. Genugtig. Wat ‘n dag!

Dag 2

Saterdag 15 Junie

Sutherland- Frazerbrug- Loxton- Carnavon

“Afrikaners Is Plesierig”   

Wat ‘n gesukkel om op te staan!  Dis koud en elke uitblaas asemteug is ‘n wasem wolkie. Na ‘n warm stoomstort het ek darm die waagmoed om my nat rystewles aan te trek.   Nadat daar weggepak en opgedollie is, gaan verken ek Sutherland se hoofstraat.  Van die besighede is in ou mooi kliphuise gevestig. Hierdie moet Suid Afrika se mooiste PEP wees! 18 sutherland pep

Die huis met die groot teleskoop is toe al die tyd Sutherland se inligtingsentrum.  Tot my spyt was dit nog toe!

19 sutherland teleskoop border

Die polisiestasie is ook in ‘n ou klipgebou, ‘n skuins klipgooi van die Withuis af. 17 sutherland polisie border

Hier is van Sutherland se plaaslike sekuriteitswagte.  Hulle alampies werk goed en geen steelfotograwe word geduld nie! 16 sutherland sekuriteitswagte border

14 Ribbet collage sutherland dag

Ons dag skop af.  In die flou oggend sonnetjie trek ons weg in die rigting van die SALT Sterrewag.   Die omheinde stuk grond waarop die sterrewag staan, lyk amper na ‘n natuurreservaat met al die 45 km /h bok-waarskuwingbordtjies.  Ook maar goed so, want gou kronkel die pad verby ‘n troppie springbokkies wat langs die pad wei.  Ons volg die pad teen ‘n heuwel uit, en word bo begroet deur die allermooiste legkaart uitsig. Bo-op die plato lyk dit kompleet soos ‘n klein dorpie.  Behalwe vir die sterrewag, is daar ook ‘n inligtingsentrum en woonkwartiere. Die toer wat ons graag wou doen sou ‘n uur duur.  Iets wat nie in ons tydsbegroting is nie.  Eendag sal ons wel hierheen terugkeer, gee net kans!

20 Ribbet collage sutherland buite salt

By die sterrewag se uitgang draai ons links na Frazerburg.  Nismark  trek uitgelate in ‘n stofwolk weg. Ek wag eers dat die ergste stof gaan lê voordat ek hom volg. 22 salt pad na frazerburg

5 Kilometer voor Frazerburg staan ‘n pragtig skaap in die pad.  Vet! Ons probeer so ver as moontlik om haar verby ry  sodat sy nie skrik nie.   Maar dit help nie. Angstig probeer sy deur die plaasheining wurm om by haar trop te kom. Foeitog!  Ek hoop sy’s okey.

Frazerburg se buitewyke is tjoepstil, totdat ons die woelige hoofstraat binne ry. Meeste geboue lyk vaal met mense wat tydsaam  inkopies doen. Hierdie historiese gebou vang toevallig my oog toe ons uit die dorp begin ry.  Dis jammer dat dit so verwaardeloos lyk.   Mens sou reken dat ‘n nasionale historiese monument meer trots by dorpenaars sou inbors

24 frazerberg rondawel kerk

Ons trek weer weg.  Die volgende plek op die padkaart klink soos iets uit ‘n Cowboy fliek.  Loxton.   Die grondpad na die “Cowboydorp” is wyd, met uitgespoelde gate hier-en-daar.  Plek-plek ry ons oor ligte sinkplaat of deur sandstroke.  Behalwe vir ons motorfietse, ‘n uitgestrekte see van vaal bossies en ‘n paar beeste, sien ons nie veel nie. Dis hoe dit hoort.  Ons  siele soek rus. 26  Ribbet collage oppad na loxton Kyk wat kom ons teë:   ‘n Truksvyboord! 25 truksbyboord 1Die gedagte aan ‘n hoender-en-mayo toastbroodtjie neem my gedagtewêreld oor. Hoe meer ek daaroor  dagdroom, hoe vinniger begin ek te ry!   Loxton verskyn onverwags aan ons linkerkant by ‘n T-aansluiting. Dis tyd vir daai broodtjie!  Ma’ …?   Wat gaan dan hier aan? Hier’s dan nie eers ‘n blaartjie wat roer nie.  Waa’s al die mense?  Die ergste van alles, my dagdroom-toastbroodtjie is in Die Rooi Granaat.  Toegesluit!

Ons ry in die stil hoofstraat af, opsoek na lewe.  Al teken wat ons daarvan sien is die polisiestasie se oop voordeur. Met ‘n naam soos Loxon het ek 8 huise langs ‘n windverwaaide hoofstraat verwag.  Is ek verkeerd!  Dis ‘n pragtige dorpie vol lafenis.  Aan weerskante van die hoofstraat staan ‘n laning bome wat mens verbaas laat wonder hoe op aarde hierdie groen dorpie in die vaal Noord Kaap beland het. voor loxton mix  28 Ribbet collage loxton dorpie Honger piekniek ons sommer langs die straat.  Peanut clusters, hoender biltong, apiekos, (dis nou gemengde droë vrugte en neute) nougat en fizz lekkertjies.   Na die vingerete pak ons die laaste 60 km aan Carnavon toe. na woefies frame Met die intrapslag lyk Carnavon bra verlep.  Dalk is ons by die dorp se gatkant.  Ons soek-en-soek Carnavon Hotel, maar kry niks!   Vir aanwysings stop ons langs ‘n vriendelike tante wie alte graag vir ons verduidelik waar die hotel wegkruip. Dalk is hierdie Carnarvon plek nie te sleg nie. Oppad hotel toe stop ons vinnig by die petrolstasie vir brandstof.  Mens weet nooit of hul more (Sondag) toe is nie. Terwyl die petroljoggie ons help, stap twee meisietjies met penorent hare en bont kleertjies verby ons. Dit lyk kompleet asof hulle  gaan spook speel iewers.  Hulle buk by die kraan langs ons, drink lang tue water.  Iets roer in my.  Ek wonder hoeveel kanse die lewe hulle gaan bied.

Uiteindelik kry ons die hotel. ‘n Knaap wat moontlik van kok tot kelner is, ontvang ons in die  voorportaal. Hy’s stillering en  sonder fieterjasies.   Hy vertel dat daar vanaand twee funksies in die hotel is. Blikkies Bar is uitgeboek vir ‘n jagtersgeselskap terwyl daar ook ‘n danspartytjie is ter viering van die nuwe hoteleienaars.   Om ons sien mens die voorbereidings.  Blink gepoetste glase en bokse drank staan in die voorportaal.  In die danssaal stel die klankman sy toerusting op.  Stoele pronk al in die rondte teen die muur om die dansbaan af.  In een hoek staan ‘n tafel vol peuselhappies.   Ooooh!  Vanaand gaan die poppe dans!   Nadat ons afgepak het, gaan verken ons die dorp. 30 Ribbet collage carnarvon geboueDie lang hoofstraat lyk nog steeds vuil en grillerig.  Al wat kort is twee cowboys wat mekaar uitdaag tot ‘n skietgeveg.  Voor die drankwinkel en ‘n vaalpienk hotel word daar met ywerig gefuif.  Hoe verder ons straat-af stap hoe stiller raak dit.  Daar’s selfs een of twee oulike geboue. Die Meerkat Restaurant vang ons oog.  Met die intrapslag voel ons sommer dadelik tuis.  Dis gesellig en tot ons verbasing, propvol mense!  Right, ons weet waar ons vanaand gaan eet!

Dis hoe Carnarvon se  drankwinkel se “voorportaal” lyk. 31 carnarvon drankwinkel

Die kerk is een van Carnarvon se historiese monumente.  As die hekkie nie gesluit was nie, sou ek dit van nader bewonder! 32 carnarvon kerk

Oorkant die kerk, staan so ‘n uitgedopte geboutjie dingetjie.  Nadat ek daaroor begin uitvra, leer ek meer van korbeel huisies.  Tussen 1811 en 1815 het boere in die distrik hierdie huisies met selfgemaakte stene gebou. Gewoonlik het dit net een venster en deur gehad en is daar buite kosgemaak omdat vertilasie swak was. 33 carnarvon korbeel

Carnarvon vang my ontkant.  Dis als behalwe ‘n vervelige dorpie. Dis divers!  Met mense wat byna pinkie-in-die-lug restaurantkos eet, terwyl ander weer op iemand se ma voor die drankwinkel skel.  En dit alles, terwyl ‘n man ongestoort op die hoofstraat se sypaadtjie sit en braaibroodtjies braai!

Terug by die hotel kyk Nismark rugby terwyl ek die dag se gebeure op my foon tik.  Frazerburg was bietjie gaggarig,  Loxton is ‘n juweeltjie, Sutherland laat my dink aan ‘n halfwegstasie terwyl Carnarvon heeltyd soos ‘n kaleidoskoop bly verander.

Na rugby is dit etenstyd! Oppad uit die hotel word ons in die voorportaal verras met kerslig en blink sherry glasies net waar jy kyk.  Die outjie wat ons vroër die middag ontvang het, is nou uitgevat in ‘n swart pak. Diftig gekleëde partytjiegaste kom die hotel binne.  Almal lyk spiekeries!  En daar staan met ons in jeans en slenterskoene die prentjie en aanstaar.   Toe gebeur die onverwagse.  Ons begin giggel!  Net soos twee stout skoolkinders tydens ‘n  saalbyeenkoms.   Wie sou kon raai dat hierdie so ‘n groot okkasie gaan wees!   Ons stap uit die geselligheid die donkerte in, Meerkat toe.   In die hoofstraat heers ook ‘n feestelikheid onder die jonkklomp wat voor die vaalpienk hotel rondhang.  Skril meisielaggies styg opgewonde bo die res se gebabbel uit.  Ja nee kyk, vanaand is Carnarvon die Noord Kaap se partytjiehoofstad.

Meerkat is nog net so vol mense soos vroër die middag.  Om uit die pad te kom beweeg ons na die kroeggedeelte. Brandt, Die Meerkat se eienaar, is sommer vinnig by ons kroegtafeltjie met ‘n bottel Flippen Lekker Wyn (nee regtig, dis die naam!).   Twee jaar terug het hy Porterville vir ‘n mooie nooi verruil en hier op Carnarvon kon woon. Hy self is die trotse eienaar van ‘n BMW 800 GS. ‘n Griek kom gesels met ons (klink amper asof dit ‘n grap gaan wees ne?) en skielik raak die wereld klein, want hy en Nismark is gemeenskaplike kennise van iemand.  Die griek se seun en die se meisie sluit ook by ons aan.   Hulle is besig met ‘n merkwaardige toer vanaf Kaapstand na Bloemfontein op elektriese trapfietse.  Teen 50 km/h! Nog ‘n man kom na ons tafel en stel homself as een van Brandt se pelle voor.   Tussendeur die gesels nooi hy ons om later by Carnarvon Hotel te gaan dans. Oe aarde!   Na ‘n gesellige kuier-aand met vreemdelinge en die lekkerste wildsvleishamburgers groet ons Brandt en stap trommeldik in die koue terug hotel toe. 34 Ribbet collage carnarvon meerkatDaar is die dans-jolligheid in volle swang.  Nuuskierig loer ek by die danssaal in.  ‘n Klein kringetjie lywe dans los in die middel van die donker saal terwyl paartjies om hulle skoffel in die lig van flitsende laserstrale. “Klik-klak, klik-klank” Stap sy verby my oppad na buite, dooie sigaret in die hand.   Skielik steek sy vas, gee my een kyk en trek los: “Ek sê vir jou!   Ek het tien jaar laas so lekker gedans!   Sy draai in die dansbaan se rigting en skree vir iemand: “Wys hoe jy dans! Wys hoe jy dans!  Sy gaan foto’s neem!”  Ek glimlag maar beleef, neem foto’s en maak spore!

Carnarvon.  Wat ‘n dorp!  Skollierig op plekke. Kitch op ander.  Kleurvol.  Vriendelik. Eerlik. En wat ‘n restaurant.  Waar wit, bruin en swart saam pizza eet terwyl hul voete ritmies op Spaanse musiek saamtik.  Ek dink het ek my gunsteling plek in Suid Afrika gekry. Tot dusver kom niks naby dit nie.

Dag  3

Sondag 16 Junie

Carnarvon – Welliston – Verneukpan

“Maar hier is dan niks!?”

Brain Adams bler my wakker. Wat!  Ringkink die stromtroopers nog steeds!? Ek sien al hoe die dominee vir leë banke  preek.  Ek draai om en probeer verder slaap. Sondag oggend begin vaak en moeg.  Na ‘n tweede koppie koffie hoop ek maar om reg te wees vir die pad.  Om by die motorfietse in die agterplaas te kom, moet ons deur die danssaal stap. Dit ruik na sigaretstompies en ou  bier. Onaangeraakte bakkies poeding staan verlate op ‘n tafel.   In die agterplaas maak Nismark  ons bagasie op die motorfietse vas terwyl die ysterperde se engins warm word. Carnarvon Hotel se groot ysterhek rol  oop en ons vertrek.

bies gaan vertrek border

Die dorp se strate is leeg en stil. Met die fietse wat spoed optel raak Carnarvon kleiner in my truspeëltjie.  Dit laat my so bietjie bek-af voel. Dit was so lekker hier! Die volgende dorp wat ons gaan besoek is Willeston, 120 kilometer se teerpad verder. Ons ry die ongerepte vlaktewêreld binne.

Die pad voor ons is lank, reguit, eindeloos. Met elke meter wat verbyflits raak die pad meer eentonig.   Na 60 kilometer stop ons naby huisies. Dis nie korbeelhuisies nie, maar darm iets om na te kyk. Tussen my en Nismark was daar ‘n kommunikasie-glips. Brandt het ons die vorige aand vertel van korbeelhuisies waarna ons kan gaan kyk.  Natuurlik het ek aangeneem ons gaan soontoe terwyl hy daarvan vergeet het.  So leer mens né! 😉 Na bene rek, pak ons weer die vervelige pad aan Willeston toe.  Dis die langste 60 km ooit! Ons stop weer, haal peuselhappies uit en hou die spitsverkeer dop.  1 Trok en 5 motors.  Ek sukkel om my oë oop te hou.   Dit kos moedskraap om die pad weer aan te pak.

37 Ribbet collage langpad na willeston Nog steeds, strek die pad tot  in der ewigheid in!  Dan is daar skielik ‘n skerp draaitjie voor ons en siedaar!  Welkom in Williston. Dis ‘n klein maar netjiese dorpie.  Ek volg vir Nismark in ‘n systraaitjie af en parkeer langs hom by die Willeston Mall.  Dit lyk interessant!   38 Ons gaan die gebou binne, stap verby die nostalgiese Doppies Bar na ‘n donkerige restaurant gedeelte waar ‘n man met ‘n groen mamba t-hemp vir ons kom dagsê.  Ons gaan sit langs ‘n sementdammetjie en bestel koffie.  Nismark gee vir my Roefels en Asjas en ek weet:   it’s showtime! 42 ribbet  colage willeston mall doggies 1Na ‘n hamburger ontbyt vertrek ons na Verneukpan.  Mens ry so klein stukkie deur die dorp, oor ‘n bultjie wat links draai en woeps! Skielik is jy op ‘n verlate grondpad,  omring deur ‘n seë van lang wit gras. Al wat op die roete te siene is is songebrande swart klippe en bossies.   Geen bokkies, geen voëls, geen kragpale.  Daar is nie eers goggas wat hulself wil verongeluk teen ons windskerms nie!  Hoe op aarde woon mens permanent hier? Vir reisigers wat net vir ‘n wyle in hierdie dorre vlaktes vertoef, kan daar ‘n romantiese konnektasie wees.  Maar om getroud te wees met hierdie grond?  Aikôna! Die grondpad raak ietwat slegter en kry sinkplaat, uitgepoelde stukke grond en sandstoke by.  Gelukkig kan ‘n bietjie ekstra petrol-gee wonders verrig!

Die moeilikheid begin toe my fiets op ‘n draai van ‘n bultjie in los gruis gly. Dis toe dat die skrik op my fiets se handvatsels kom sit.   Die pad kry nog meer sandstroke en los gruis by. Op ‘n  stadium sloeg ek amper in ‘n sandgat neer en ry ek deur die bossies langs die pad om uit die gemors te kom.   ‘Hoe ver is dit dan nog Verneukpan toe?’ By ‘n Brandvlei / Williston T-aansluiting neem ons ‘n welverdiende blaaskans.   My lyf is is min  beïndruk met die strawwe ry! 43 Ribbet collage oppad na verneukpan 2 Met die son van agter val ons weer in die pad. ‘n Paar kilometer verder kruis ons pad met die van ‘n dooie bakoor jakkals. Arme ou dingetjie.  Sy lyfie was al kliphard toe ek versigting (gereed vir opspring en weghol) aan hom vat. 42 bakoorjakkals border

Toe ons weer wegtrek begin die sports.  Die sandpad wil net nie ophou nie!  Ek klou, sweet, skel en kry hartkloppings terwyl my moeë hand sukkel om die ratkoppelaar in te trek.   So ploeter ek voort tussen eerste en tweede rat. Waar die pad te uitdagend raak waggelloop ek.  Dis makliker as om die koppelaar in te trek om ratte te verander of om meer petrol te gee.  Soos wat die skaduwees rek, styg my gifappeltjiemeter. Teen die tyd is ek gatvol! Vir my dom hande. My loopneus. Die son in my oë. Die stu-u-u-pid pad! 44 Ribbet collage oppad na verneukpan 1 45 Ribbet collage sandpad na verneukpanNismark ry vooruit om plaashekke oop te maak.  Ek kom kreunend en steunend agterna.  Vir staan en ry is daar nie meer krag nie.  Plat op my bas sukkel ek voort.  Genadiglik raak die pad beter.

Uiteindelik verskyn oom Giel se plaashuis voor ons. Phew! Verneukpan moet nou naby wees. Met ‘n lam lyf en dowwe kop klim ek van Gizmo af. Gewoonlik geniet ek dit om geselsies met vreemdelinge aan te knoop, maar nie vandag nie.  Terwyl Nelis en oom Giel die plaashuis binne gaan, verskoon ek myself en stap sleepvoet na die plaaskleuters toe. Hulle is oulik ne?

47 Ribbet collage oom giel 2

46 Ribbet collage oom giel 1

Snuif-snuif stap ek terug, gaan sit op Gizmo en bekyk die wêreld om my.  Oom Giel en Nismark kom gesels-gesels by die huis uit. Die oom gee my een kyk en stel ‘n alternatiewe twee spoor paaitjie pan toe voor. So sal ons die ergste sandpad vermy. As oom Giel slote of erdvarkgate in die paaitjie teekom sal hy sy bakkie se noodligte vir ons flits as waarskuwing.  Dit klink na ‘n rowwe pad! Ek kry sommer die heeby jeebies. Oom Giel trek weg met ons agterna. Wat ‘n lekker tweespoorpaaitjie!   Waar die oom  wel stop en sy noodligte flits, probeer ek uitpluis wat die gevaar is. Die enigste  hindernis op die smal spoorpaaitjie is bostakkies wat na mens se  rystewels gryp.  

Agter ons begin die son sak en verander die lug in ‘n palet van pienk en blou.  Die sagte tweespoorpaaitjie onder ons word vervang met klipharde kleigrond.  Voor ons lê  Verneukpan!   Dis platter as plat en asem-wegslaan mooi. Verligting spoel oor my, sowel as ‘n “dit is volbring” gevoel.  Ek het die rit wraggies oorleef!  Hier is ek, op Verneukpan. Ek vergaap my aan die totale niks se mooi.   Hierdie oomblik sal my altyd bybly. Met sterk skemer ry oom Giel huis toe.  In die laaste oomblikke  van daglig ry ons tot by Verneukpan se legendariese klok.   Nismark laat sy motorfiets uitgelate oor die pan brul, terwyl ek hom moeg en bedees volg, betowerd deur die sonsondergang. 49 Ribbet collage opi pan 150 Ribbet collage nelis op pan

Na ‘n fantastiese warm stort sit ons stoksielalleen in die kuierarea en vuur stook. Behalwe vir die vuur se gekletter en ons gesnuiwery is dit doodstil.  Die aand se koue en donkerte kom oor die pan na ons toe aangalop.  Vanaand gaan dit koud raak! Die braaipakkies wat Oom Giel se vrou ingepak het, smaak vorentoe! Ribbetjie chops, 2 soorte wors, knoffelbrood, aartappel-en-groenslaai. Na aandete gooi ons die laaste hout op die kwynende vuur in ‘n poging om die laaste bietjie hitte op te slurp.   Koulik klim ek in my kleine karavaanbedtjie.  Doewy oor die kop probeer ek die dag se notas op my foon in tik. Ek d  ink   e k       ga aaaan nooouuu ssll       p

Dag 4

Maandag 17 Junie

Verneukpan – Brandvlei – Calvinia

“Is hierdie hamburger kosher?”

Dis bloomin koud!  Dit neem al my wilskrag om onder die beddegoed uit te loer.   Deur skrefies oë kyk ek deur die karavaanruit na buite.  Dit lyk kompleet asof ons in ‘n woestyn is.  Ek neem Roefels en Asjas vir ‘n vinnige fotosessie.  Daarna is dit tyd vir  oatspap.

52 Ribbet collage opi pan dag

 

Nismark  het die motorfietse al lankal klaar gepak toe ek nog sukkel om skottelgoed te was.  Die yskoue water brand die lewe uit jou vingers uit!  Later kom kyk hy hoekom ek so draai.  Toe hy die ysige water voel, kry hy my jammer en was die skottelgoed vir my klaar. Voordat ons padvat Brandvlei toe ry ons vir oulaas ‘n draai op die pan.  By die plek waar ‘n wêrellandspoedrekord opgestel is, ontmoed ons mede reisigers. landspoedrekord Hier’s twee “steelfoto’s” wat ek later per epos van hulle ontvang het.

IMG_2091 borderIMG_2073 border

Die“hoofpad” wat  ons uit  Verneukpan lei is kliphard met droë, uitgetrapte voertuigspore.  Op ‘n kol moes dit erg hier  gereën het!  Die sandpad wat volg is glad nie so erg soos wat ek gevrees het nie.  Plek-plek waggelstap ek deur die dik sand met ‘n benoude hartklop, maar ek kom by oom Giel se huis sonder om te val.    Nadat ons die sleutels afgee ry ons op die oom se aanbeveling ‘n ander roete as beplan.    Maar …. alles lyk dan anderste en die pad is dan nou so maklik?   “Skarrebol, is dit regtig dieselfde pad wat ons gister gery het?”   Snaaks wat moegheid aan mens kan doen! Hierdie, is seker een van Suid Afrika se eensaamste poskantore.  Swartkop.

53 poskantoor

Die pad Brandvlei toe lank, maar darm nie vervelig nie.  Aan die buitewyke van die dorp pop hophuisies onverwags op.  Baie daarvan.  Stadig ry ons deur die dorp.  Dis stil, vaal, vervelig.   Al is ons nog nie rasend honger nie, besluit ons om iets te eet by Windpomp restaurant langs die vulstasie.  Netnou is Loeriesfontien dalk net te ver as die groot honger  ons tref.  

Terwyl Nismark help om my fiets te parkeer hang ‘n verdagte karakter om ons rond.  Hy laat my ongemaklik voel.   Ons groet hom vlugtig voordat ons die restaurant binnestap.  Ek hoop hy los ons bagasie uit!   Ons gaan sit in die restaurant se buitehof langs ‘n hasiehok waarin daar ook “Karoo muise” (ground squarrels)  rondskarrel. Teen die oorkantste muur sit ‘n swetterjoel gemmerkatjies, toe ogies in die son en bak.

windppomp diertjies

Ons wag lank vir ons hamburgers.  Ons karaktervriend kom ook ingewals. Hy flikvlooi met twee boere oomies wat by ingang van die buitehof sit.  Sê nou net hy is die Windpomp se eienaar?!   Uiteindelik is ons hamburgers op die tafel.  Groot oog sit  ons daarna  en kyk.  “Wat as ons loopmagies kry van die goed?”  Baie versigtig word daar ‘n fynproewers happie geneem. Mmmm.  Die tweede happie is ook nie te sleg nie.  Toe ons weer sien is die borde leeg! Na brunch is die volgende stop op die padkaart Loeriesfontein.  Daar is ‘n windpompmuseum wat Nismark graag vir my wil gaan wys.

Die grondpad na Loeriesfontein toe is breed met hobbels wat hier-en-daar in die pad lê soos seedeinings.    Die wêreld om ons begin lyk soos  die Tankwa Karoo.    Uiteindelik wink Loeriesfontein in die verte. Ons stop om die mooi prentjie te bewonder.

58 loeriesfontein in sig

Ons ry die dorpie stadig binne.  Dis skoon en netjies met dorpenaars wat vriendelik kop knik.  Al is die Windpomp Museum reeds toe, kan ons gelukkig ‘n draaitjie in die “windpoptuin” loop. 59 Ribbet collage windpompeTerwyl ons tussen die windpompe stap, kom ‘n meisietjie aangehardloop. Met ‘n sterk afrikaanse aksent vertel sy in engels dat daar mense is wie ons kan bel vir ‘n begeleide windpomptoer. En poef! Daar draai sy in haar spore om en hol terug huis toe!

Die laaste 80 km Calivnia toe voel lank.  Veral omdat ons min lus het om die uitgedroogte moddergroewwe pad te ry!   Langs skaduwees kruip al oor die pad toe Nismark stop.  “Eet gou-gou iets.” Dit beteken ek ry alweer simpel!   Hierdie was seker een van die mooiste stilhouplekke tydens ons toer.  Op linkerkant is ‘n veld kokerbome, terwyl skaapooie en hul kleingoed regs van ons wei.  Geen foto sal die mooi kan vasvang nie, maar hier is ‘n probeerslag! 60 Ribbet collage mooi pad calvinia toe Ons kies weer koers Calvinia toe.  Agter die Hantamberge verflou die sonstrale.   Die vars koue karoolug, tesame met ‘n trop springbokkies wat in die veld langs ons hasepad kies laat my verwonderd in die Karoo se mooi.

  SAM_0675

Calvinia is verseker die grootste dorp wat ons besoek.   Soveel so dat dit lyk asof daar tot woonstelle op van die winkels gebou kan wees.  Dis ook die eerste dorp wat robotte het, met heelwat trokke wat deur die hoofstraat ry. Ons slaapplek vir die aand is in die “onderdorp” by  die Blou Nartjie.  Na ‘n stertswaai verwelkoming deur ‘n oulike basset en ‘n salige lang stoombad, gaan verken ons Calvinia.

61 Ribbet collage calvinia nightlife

Calvinia se naglewe is maar stil, behalwe vir ‘n streetwise hond wat so stertlengte voor ons loop.  Ek het half verwag dat hy gaan kom dagse, maar hy was druk besig met sy straatlig inspeksie!   En toe gebeur dit:  Vanuit ‘n donker stegie storm ‘n  swart gevaarte op ons af.  Stert penorent.  Maau!  Maau!  Prrrr-prrrr!   Wat ‘n oulike aandagvraaitjie!

SAM_0698

Die honger begin kraag en ons is by eerste plek in wat soos ‘n restaurant lyk.  Mens stap deur ‘n groot gang, verby die oopplan kombuis en word begroet op regterkant met netjiese rye tafels en stoele wat byna verlate in ‘n dof verligte vertrek staan.  Behalwe vir ons is daar nog twee ander paartjies wat by tafels sit, beide met rekeningboekies.  

62 Ribbet collage calvinia restaurantKort voor lank kom maak die eienares kennis (sy was sommer ons kelnerin ook) en ons raak lekker aan die gesels.  Sy vertel dat die gebou waarin ons sit reeds in 1912 gebou en later in ‘n winkel omskep is.  Nadat die winkel afgebrand het, het sy die gebou oorgeneem en dit in ‘n restaurant omskep. Dit gebeur wraggies weer toe aandete bedien word. My porsie is groter as syne!  Waar ons ook al tydens ons toer eet, my porsies bly groter en lekkerder lyk. Ek kry skoon skaam!  Gelukkig geniet die man sy kos en dit plaas geensins ‘n demper op die aand nie.

DAG 5

Dinsdag 18 Junie

Calvinia-Tankwa Padstal-Ceres-Bellville

” ‘n Onbelangrike Verjaarsdag” 

Ek verjaar, maar dis  onbelangrik.  Ons reis deur die vreemde  is so betowered dat alle ander gebeurtenisse in  die agtergrond verdamp. Ontbyt is in die Blou Nartjie se restaurant.  Mens word onkant gevang  as jy die hout voordeur oopstoot.  Die ruim vertrek se plafon is hoog met twee bruin  pilare wat om ‘n onverklaarbare rede my oog bly trek.   Ons vind gou uit hoekom.   Tussen  1863 en  1920  was hierdie  gebou Calvinia se eerste sinagoge.   Die twee bruin geverfde  pilare was deel van die oorspronklike gebou.   Na 1920 is ‘n groter plek van  aanbidding gebou, wat vandag as Calvinia se museum dien.

63 Ribbet collage blou nartjie breakfast

Buite raas die wind en ek sien hoe dit boomtakke woes rondskud.    My ontbyt raak smaakloos  ek begin angstig voel.  Vir  dwarswind kaskenades oppad huis toe, sien ek min kans.   Dalk sal ‘n derde koppie koffie my  meer moed gee.   Na ‘n stewige ontbyd  neem ek vir oulaas nog Calvinia foto’s terwyl Nismark ons  motorfietse regkry vir die pad. 64 Ribbet collage calvinia dorp 1

Terwyl ons die dorp verlaat voel ek bietjie bakaf.   ‘n Onvergeetlike ontdekkingstog is besig om tot ‘n einde te kom.   Van nou af gaan paaie weer   bekend raak.     Ons is nog nie eers behoorlik op  die nasionale pad nie of die wind storm verwoed op ons af.  Ai tog.  Moet daar nou alweer gebaklei word!?   Gelukkig klim ons ‘n paar kilometer verder op die windlose grondpad wat ons na   Tankwa Padstal  toe sal neem.

SAM_0760

Die pad is mooi vir ‘n klein stukkie voordat  dit  in ‘n blinkwit gladde pad met uitgedroogte  moddergroewe verander.    Stadig werk ek deur die ratte totdat ek met gemak tussen die groewe kan ry. By Bloukranspas neem ons ‘n blaaskansie.  Terwyl Nelis foto’s van die fraaie uitsig neem, wag ek teen  die berg se rondswand .   Die afgrond waar hy staan is net  te senutergend! 65 SAM_0763  ‘n Paar bulte en  draaie verder kom ons die eerste groenigheid vir die dag tee toe ons verby ‘n plaasopstal  in ‘n vallei ry.  Die lang  gras langs die grondpad maak mens lus om te stop,  jou rystewels uit te trek en jou kaal voete in die sagte gras te druk.    Ons word egter gou begroet deur die vaalbruin Tankwa Karoo toe  ons oor die laaste klippie van die plaaswerf ry. Waar Stonehede se jaarlike Africa Burn plaasvind, herken ek die pad.    Plek-plek is  R355 sleg verpoel met “padhobbels” hier-en-daar waaroor mens lekker wip. 65 Ribbet collage oppad na tankwa Ons volgende stop is Tankwa Padstal, een van my geliefste plekke.  Dit word bedryf deur twee broers en hul vroue wie die stadslewe vaarwel geroep het. Behalwe vir die winkeltjie en kroeg is die Lange’s ook besig opheffingsprojekte vir die Tankwaniete.   Dan praat ons nie eers van Hein se groen vingers en sy skoonsus se skaaptroppie nie! Na ‘n gesellige kuier staan ons toer einde se kant toe.  Die volgende stuk grondpad sal ons laaste stofpad wees tot by die Theronspas teerpad.  Ons groet   en vat pad in die laat oggendson.

  66 tankwa bi se

By Ceres ry ons reguit na Nismark se ouers.    Nadat ons daar  gekoffie en gekuier het durf ons die heel laaste stuk pad Bellville toe aan.   Nie een van ons is  meer lus vir ry nie.   20km voor Wellington stop ons.  Nismark l se agterent is seer en my  knieë pla.   Nou is die pad te lank, ons wil by die huis kom.

Durbanville ry ons gedurende spitsverkeer  binne.  Dit voel vreemd om skielik 60 kilometer per uur  te ry.  Net voor donker stop ons by my huis.  Die katte kom uit die huis gehol terwyl die sirkushondtjies  keel opsit in die motorhuis.   Home sweet home.

Met handpalms vol eelte (van al die klou aan die motorfiets se stuurstang) tik ek voor slaaptyd die dag se rynota’s op my foon.    EK het baie dinge geleer.  Van mense, die Noord Kaap.  Dat jy  ver kan kom met goeie parfuum, dik sokkies en hawermoutpap .   Na 1764 km is die reis verby.  Ek sal dit enige tyd wil oorhe.

Ipiloog

Dis donker, dis spitsverkeer en ek is oppad werk toe.  Niks kan my pla nie.   My hart sing en ek voel onaangeraak deur die  gejaag na nuttelose wind.   Want diep binne my dra ek ‘n skat wat vir my gewys het dat die lewe eintlik eenvoudig moet  wees.   Ek het iets uit hierdie reis  gekry wat niemand sal kan wegvat nie. Twee weke later  ry ek saam met Nismark agterop sy motorfiets  na Bloubergstrand.  Ek sien die wolke  en ek dink aan die aand toe ons in die “party capital” van die Karoo was.  Ek mis Carnarvon nog steeds!

67 selfie    

Advertisements

2 thoughts on ““Nog! Nog! Nog!” Sò Het Dit Begin

  1. Baie dankie vir die interessante lees-stof. Ek het in die 80’s ‘n soortgelyke toer onderneem met ‘n XR500. Dit het ‘n “suppertrap” op die uitlaatstelsel gehad. Ek het daardeur meer skel as gasvryheid gekry, net toe dit nie meer geraas het as dit parkeer is nie.
    Ek trek nou al by my negende motorfeits, BM K 1200 GT, ek toer ongelukkig net op teerpad, maar eendag as ek groot is (nou 55) sal ek die Karoo weer aandurf met ‘n 1200 GS. Ek nooi hulle om my toergidse te wees, maar dan slaap ons ten minste twee nagte oor om ‘n plek. Ek ken baie Karoo- mense en plekke. As jul ooit in die rigting van Kempton Park gaan, kontak my. Groete

    Like

    • Willie, daai GT is darm maar ‘n fantastiese fiets om bergpasse mee te ry.) 🙂 Ek het so paar jaar terug ‘n 82 XR 200 gehad. Hy was meer in die siekeboeg as op die pad. Mens het nog so lekker gery, dan hoor jy maar die fiets raas dan nou ekstra baie, dan le die uitlaatpyp in die middel van die pad!

      Jy moet asb so af-en-toe vir ons jou teerpadtoere wys. Ek ken glad nie daai wereld nie. Eendag sal ons aan jou voordeur kom klop. 🙂 Groete uit ‘n winderige Kaap!

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s